ʼn Stilhouplek vir moeë lywe en tam siele

Drs. S. van der Merwe en T. Kleynhans
25 April 2025

Ek onthou dit soos gister – die dag, datum en plek. 

Sondag, 22 Augustus 2021.

Ons is op pad vanaf Kleinmond na Kroonstad.

Ek, my man en ons dogtertjie.

Die pad lê oop voor ons. 

Die neus van die Ford Ecosport hou al met die wit stippellyn langs – Noorde toe. 

Die Kaap lê agter ons.

Ons harte is steeds in die Kaap. 

By my skoonouers.

Dit was moeilik, baie moeilik om my skoonsussie te groet.

Die diens ter viering van haar 33 jaar as mens en dogter, suster, skoonsussie, kollega, vriendin en soveel meer, was seer.

Hartseer.

Diep seer. 

Covid-19 het haar sonder waarskuwing ʼn deel van die wêreldstatistiek gemaak. 

Nog een geïnfekteerde.

Nog een gehospitaliseerde.

Nog een sterfgeval.

Nog een troosdiens.

Wie is volgende, is die vraag wat te maklik in my gedagtes na vore spring.

In die motor sien ek die oop landskap waardeur ons ry, maar my gedagtes dwaal tussen hospitaalgange en hartseerverhale van soveel mense wat stukkend en verslae is.

Ons is tussen Botrivier en Villiersdorp.

Asof uit ʼn newel, sien ek toe skielik die mees idilliese landskap voor ons ontvou. 

Die werklikheid daarvan prentjiemooi.

Psalm 23 skiet in my hart en gedagtes op.

“Stop asseblief”, sê ek vir my man.

“Stop net hier.”

Hy verminder spoed en trek op die grondskouer van die pad.

“Skakel asseblief die motor af”, sê-vra ek. 

Ek sit die radio ook af. 

In haar stoeltjie slaap ons dogtertjie op die agterste sitplek. 

Terwyl die landskap prentjiemooi voor ons lê, “hoor” ek Psalm 23.

Asof iemand dit voorlees. 

‘n Psalm. Van Dawid.
Die Here is my herder:
ek ly nie gebrek nie.
In groenweivelde
laat Hy my rus;
na water waar daar rusplek is, 
lei Hy my.
Hy gee my nuwe lewenskrag;
Hy lei my op die regte paai
ter wille van sy Naam.  
Selfs as ek in die donkerste kloof 
ingaan, 
is ek nie bang vir gevaar nie,
want U is by my. 
Dit is u staf en u stok
wat my gerusstel.
U dek vir my ‘n tafel voor die oë
van my teenstaanders. 
U verfris my kop met olie;
my beker loop oor. 
Net goedheid en troue liefde 
sal my volg
al die dae van my lewe,
en ek sal terugkeer
na die huis van die Here,
tot in lengte van dae.

 Psalm 23:1-6 Afrikaans 2020-Vertaling

My man klim uit en maak sy foon se kamerafunksie oop. 

Hy klik die toneel ʼn paar keer en stuur die stilhouplek-foto’s vir my.

Ek soek dadelik my pa se nommer en stuur dié foto vir hom met die onderskrif: 

Green pastures van Psalm 23.

So begin die Twee x Twee boodskap vir die week.

Ons teks is die foto voor ons.

Die teks van Psalm 23.

Ek het werklik nodig gehad om stilhouplek te vind.

Vir myself.

Waarskynlik is dit nie net ek wat stilhou nodig gehad het nie.

My man het dit ook nodig gehad.

My gesin het stilhouplek nodig.

So ook my familie.

Ek dink onomwonde aan elkeen in die gemeente wat stilhouplek nodig het.

Ons leef in skrikwekkende tye.

Ek herroep die Covid-19 pandemie wat onaangekondig alle normaliteit onder ons voete uitgeruk het.

Siekte, siekwees, pyn en lyding saai ses jaar later steeds verwoesting. 

Die dood bly die ongenooide gas wat al te dikwels aan ‘n geliefde se deur kom klop.

Die Suid-Afrikaanse politieke konteks is ʼn kruitvat wat met ʼn paar woorde aangesteek kan word.

Werksekerheid en finansiële stabiliteit word bedreig deur wêreldwye ekonomiese turbulensie.

Sosiale afstand bring verwydering op tye wanneer mense mekaar die meeste nodig het en waar nabyheid noodsaaklik is. 

ʼn Plek om stil te hou.

Dit is wat ons nodig het.

Steeds nodig het.

Sodat ons weer bewus kan word van sekerhede.

Die sekerheid dat daar wel nog goed is.

Dat God goed is.

Dat Hy soos ʼn herder goed is.

Die Goeie Herder is.

ʼn Plek om stil te hou

Dis nodig. 

Meer as ooit nodig.

Sodat ek weer kan glo.

Glo dat die Here ten spyte van alles, vir my die geskenk van hoop gee.

ʼn Plek om stil te hou

Dis so nodig. 

Daagliks nodig.

Die geskenk van rus en vrede noem die Psalmdigter dit.

Soos iemand wat met onvrede en ontevredenheid worstel en dan ontdek dat daar steeds ʼn teenoorgestelde realiteit bestaan – ʼn gemoed vol vrede.

ʼn Plek om stil te hou

Dis bitter nodig. 

Nodig om die geskenk van krag te ontvang.

Soos iemand wat geheel gestroop van liggaamskrag aan die siekbed vasgekluister is en dan ontdek dat daar ʼn bron is waarby hulle kan inskakel en waardeur hulle weer kan herlaai. 

Krag om die siekte te veg.

Krag om aan die Here oor te gee.

ʼn Plek om stil te hou, is noodsaaklik sodat ons nie sal voel soos vreemdelinge nie, maar soos kinders van die Vader se huishouding.

Sodat ons nie sal voel soos weeskinders nie, maar soos die eie kinders van die liefdevolle Vader.

Sodat ons nie sal twyfel oor ons dag tot dag bestaan of oor ons toekoms nie, maar sal weet dat ons veilig is in God se hande.

Getroos.

Gevoed.

Versorg.

Beskerm.

Veilig.

Wat meer kan ʼn mens vra?

Wanneer ʼn mens besef dat hy of sy niks kort kom nie.

Hoe geseënd kan ʼn mens nie wees nie?

Wanneer jy besef dat jy oorlaai word met God se goedheid en welwillendheid en troue liefde.

Wat het ʼn mens nog nodig nadat die Here belowe dat sy goedheid en guns ons sal volg en by ons sal bly soos twee getroue herdershonde – styf aan ons sy.

Niemand gaan mos dan met ons mors nie.

Dan besef ek my ware stilhouplek is my tuiskoms.

My stilhouplek is ʼn verwelkoming in die Vaderhuis.

Ek het stilgehou, want ek is by die huis.

Welkom tuis, lees ek op die bordjie voor die ingang.

Welkom in jou Vaderhuis.