Die lewe is soos basaarpoeding en sosaties

Drs. T. Kleynhans en S. van der Merwe

28 April 2025

Die lewe is soos basaarpoeding en sosaties

Dit is Saterdag in Kroonstad.

Basaardag. 

Dit reën katte en honde. 

Die basaar gaan voort onder tente en sambrele en binne in die kerksaal.

Die tafels kreun. 

Braaivleis, roosterkoekburgers, kerrie en rys, pap en kaiings, pannekoek, poeding, gebak en cappuccino.

Die lewe is lekker. 

Die lewe is goed! 

Ons koop vars vleis en tuisgemaakte konfyt. 

‘n Lekker varsgebakte brood nogal uit die musikale hande van die orrelis!

Die wit olifanttafel gaan ons verby, want ons het reeds ʼn oerwoud vol van ons eie. 

“Ons ry níe voordat ek basaarpoeding gekoop het nie.”, sê my vrou.

Ek ondersteun heelhartig. 

Daar is niks so lekker soos ʼn bakkie basaarpoeding nie. 

Vol geskep en opgehoop. 

“Maar eers gaan ons sosaties en pap met chou-chou koop.”, dring ek aan.

‘n Gedagte begin vorm aanneem in my kop …

Soms is die lewe soos basaarpoeding, of hoe?

Tafels wat gepak is met bakke en bakke poeding. 

Te kus en te keur. 

Gebakte poedings.

Koue poedings. 

Gestolde poedings. 

Natuurlik met regte, egte vla.

Lepels vol geskep in bakkies en bedien met silwer lepels om te smul aan die soet lekkerte.

Onbeskaamd.

Bederf-oomblikke.

Alles is wel!

Alles is wel met my “siel-oomblikke” soos ons in die vroeëre dae vanuit Lied 261 uit die Hallelujabundel gesing het.

Basaarpoeding-oomblikke – bakke vol keuses van lekkerte.

Soms, net soms is dít die lewe. 

Mooi oomblikke vol sonskyn.

Opstaan met ʼn lied in die hart.

Vooruitsigte.

Beloftes.

Hoop.

Verjaarsdae.

Kleinstekindertjies-word-gebore-dae.

Doopdae.

Stap-oor-die-verhoog-dae met ‘n gradeplegtigheid.

Braaivleis, sonskyn en Chevrolet dae het die advertensie dit vyf en vyftig jaar gelede op TV verkoop. 

Hierdie tipe dae is meestal vêr uitmekaar. 

Min sulkes, want die jeugdae gaan gans te gou verby.

Min sulkes, want die wolke pak vinnig saam soos tydens ʼn “properse” Gauteng donderstorm.

Dae van oud word breek ongemerk aan.

Swaarkry word baie.

Nou, nou is ons by sosatie dae dink ek terwyl ek die hoendersosatie uit sy stokkie kou.

Dit voel dikwels of die lewe meer en meer sosatie dae het.

Sosaties – gesny, gestok, in marinade gelê, gebraai oor vuurwarm kole.

Wreed uitmekaar geskeur.

Fyngemaal onder kiestande en valstande.

Ingesluk.

Die lewe is gevul met dae van aanhoudende pyn.

Beproewing. 

Bittere lyding. 

Lyfpyn.

Hartspyn.

Sielewroeging.

Konflik.

Struggles.

Kroniese siekte.

Kanker.

Befoeterde-base. 

Swart-wolk-oor-die-kop dae.

Dae van vermoeienis en bekommernis.

Te veel om te noem!

Elia, Job en Jeremia dae.

Ken jy ook die twee kante van die lewe?

“Ken jy lekkerness?”, soos wat Peach van Pletzen sou sê?

Soet soos die heuning wat Simson uit die leeu se karkas naby Timna gehaal het (Rigters 14:8-9).

Ly geen gebrek, beker loop oor tipe dae soos Dawid dit beskryf.

Ken jy wel ook die ervaring om gestok en gebraai te word?

Bitter soos gal soos die blinde Simson, leunend teen die hefboom van die meulsteen van die Filistyne, dit ervaar het (Rigters 16:21).

Donker klowe van vrees en wanhoop. 

Die dal van doodskaduwee. 

Dawid se sosatiepyn.

Wat maak ons dan nou met die dae wat ons gegun word?

Basaarpoeding dae.

En sosatie dae. 

Wat is die lewenshouding en -ingesteldheid wat van ons gevra word?

Sou ewige dankbaarheid gepas wees?

Dankbaarheid oor die wonderlike vloei-soos-strome-kalm-en-rein dae. 

Here, hoeveel blye dae
vloei soos strome kalm en rein,
Sonder kommer, sonder klae
Vol van vreugde en sonneskyn!

Liedboek 571:1

Dankbaarheid vanuit die binneste van die kern van die sentrum van die hart.

Ongedwonge dankbaarheid.

Vryvloeiend.

Wat van totale oorgawe?

Nee! Nie oorgawe aan die vuur van die braaier nie.

Geen gewillige onderwerping aan die vernietigingsmag nie.

Oorgawe aan God. 

Vrywillige geloofsoffer aan God. 

God wat die Lam voorsien het. 

Geslag.

Deurboor.

Gedood.

Dankbaarheid, definitief. 

Oorgawe, ja beslis. 

Dit beteken dat God nie net daar is vir jou wanneer dit goed gaan en die basaarpoeding suikersoet op jou tong proe nie.

Die frase in die volksmond sê nie verniet “Come hell or high water” in sosatie seer dae nie – in gelowige taal beteken dit: God sal by JOU staan!