Your cart is currently empty!
’n Halfdosyn haakplekke vir my hart
Drs. S. van der Merwe en T. Kleynhans
24 Junie 2025
Mense is ten diepste emosioneel en rasioneel – daarteen kan ons nie stry nie. Emosies en denke. Hoe ons voel én hoe ons dink is deel van menswees. Dit is so natuurlik om deur die loop van die lewe sterk emosies te ervaar en deur diep oortuigings gedryf te word.
Menslike emosies kan as volg op ‘n kontinuum geplaas en visueel voorgestel word:

In hierdie diagram word daar duidelik uitgebeeld dat emosies op ‘n positiewe en ‘n negatiewe spektrum lê. Die diagram dui emosies vervolgens ook aan in terme van vlakke van energie – lae energie en hoë energie emosies.
Gun jouself vandag die paar oomblikke om hierdie infografika deeglik te bestudeer. Neem jou tyd en merk elke emosie wat jy op ‘n gereelde basis ervaar. Raak bewus van waar elke emosie op die positiewe en of die negatiewe spektrum lê. Dink na oor die intensiteit van elke emosie wat jy gemerk het. Is dit lae energie of hoë energie emosies? Karteer vandag nog jou emosionele landskap met absolute eerlikheid deur gebruik te maak van hierdie gemoedsmeter.
Met hierdie emosionele landskap in jou agterkop het jy as gelowige waarskynlik ‘n innerlike worsteling. Dit wil voorkom asof gevoelens en denke – ons praat hier spesifiek van geloofsoortuigings – met mekaar in stryd staan. Ons kyk na die landskap van ons emosies en die prentjie wat ons sien is dalk nie noodwendig wat ons wil sien nie. Dis miskien nie hoe ons noodwendig wil of behoort te voel nie. Meeste van ons het mos hierdie idee dat gelowige mense eintlik net positiewe emosies behoort te ervaar, anders skiet jou geloof ver tekort. Ons dink ook dat gelowiges net sterk en doelgerigte denke behoort te hê, anders wys dit op een of ander tekortkoming. Kom ons sê dit sommer prontuit en daarmee verseker ons jou dat dit natuurlik onwaar en absolute onsin is. Ons is mense, aanmekaar geweef met gevoelens en denke, wat nie beperk is tot net die goeie en positiewe emosies en denkpatrone nie.
Die Bybel is in hierdie saak ʼn vertoonkas van emosies en denke in die gewone gang van die lewe. In die legio verhale wat opgeteken is kom ons vinnig agter dat daar geensins ongemak is om die wye verskeidenheid emosies en ook denkpatrone ten toon te stel nie. Mense wat worstel met emosies en gevoelens wat net te veel raak om te hanteer. Emosies wat so intens ervaar word, dat selfs logiese denke by die deur uitgeskop word. Onthou, dink mooi en verstaan!
Daar was mense wat gesê het: “Ek is moeg.”
Sommige mense het gesê: “Ek voel alleen.”
Ander het gevoel dat dinge onmoontlik is.
Dat baie mense baie bang was, is ongetwyfeld waar.
“Ek voel asof niemand my liefhet nie.”, het ander gesê.
“Ek kan dit definitief nie doen nie!”, het ook uit monde geklink.
Vandag identifiseer post-moderne mense soos ons steeds met sulke emosies en denke. Elkeen van ons het al ver genoeg op die lewensreis gevorder om iets hiervan uit ons eie lewe te kan beaam. Indien ons soos in vorige blogs aangedui het dat ons soms net ‘n stilhouplek vir ons gemoed nodig het, of ‘n vastrapplek vir ons geloof, dan het ons definitief ook ‘n haakplek vir ons hart nodig.
Ons deel graag met jou ‘n halfdosyn haakplekke vir jou hart:
Haakplek 1: Jy sal dikwels moeg raak en dink dat jy nie meer kan aangaan nie – God self gee rus en herstel jou krag

Matteus 11:28-30 (The Message)
“Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me – watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly. ”
Ons eerste haakplek is God se belofte dat Hyself vir ons rus sal gee. Want God begryp dat mense moeg word en uitsak en soms in ‘n hopie van moegheid gaan lê. Die Bybel beeld die lewe uit as ‘n inspannende reeks gebeurtenisse, amper soos osse wat ingespan is en aangewend word om te ploeg en dors en swaar vragte te trek. Hierdie metafoor verduidelik dat die lewenslaste ons rou kan skaaf en die vrag te swaar raak. Dit is dan natuurlik te wagte dat mense sal moeg raak. Hiervoor is daar ‘n haak. God se woorde van rus. Afhaak en losmaak en uitspan en tot ruste kom. So alleen kan mens herstel van hierdie doodse moegheid. Stop. Rus. Herlaai.
Haakplek 2: Jy sal soms alleen voel en dink dat almal jou vergeet het – God sal jou nooit alleen los of verlaat nie

Hebreërs 13:5b (2020-Vertaling)
God self het gesê: “Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie.”
Die tweede haakplek vir ons hart is die woorde van die Here – wat mense wat alleen voel in hulle stryd bemoedig – met die belofte dat die Here hulle nie sal verlaat nie. Inteendeel – word Jesus nie die naam Immanuel gegee nie? Dit beteken tog dat God jou nie in die steek sal laat nie. Hy is immers God met ons. Hy sal jou daarom nie alleen laat nie. Sy naam verwys na Sy aard en wese wat bevestig dat Hy altyd in ‘n hegte en persoonlike verhouding jou bystaan. Jou ondersteun. Help. Dra.
Haakplek 3: Jy sal soms wil opgee omdat die uitdagings te groot voel – God wat jou krag gee, vind niks onmoontlik nie

Lukas 18:27 (2020-Vertaling)
“Daarop antwoord Hy (Jesus): ‘Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.’”
Derdens haak ons vandag ons harte aan die belofte dat alle dinge wel moontlik is indien dit vanuit God se oogpunt hanteer word. Ons mag telkemale tou opgooi omdat die situasie vir ons onoorkombaar voorkom. Soms word ‘n mens tot die uiterste toe beproef deur siekte of lyding, die dood self … en dan is dit maklik om uitsigloos en moedeloos uit te roep … dit is onmoontlik! Die haakplek vir ons hart is die Woord wat sê dat alle dinge moontlik is vir die wat glo.
Haakplek 4: Wanneer jy onseker is en bang word – God ondersteun met ʼn opdrag: Moenie die bang wees roete gaan nie

2 Timoteus 1:7 (Nuwe Vertaling)
“Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.”
Vierdens het ons ʼn haakplek nodig vir ons emosies en denke wanneer ons bang voel. Selfs wanneer ons vir ons eie emosies en denke bang voel. Vir die toekoms bang is. Vir mense bang is. Vir stelsels en sisteme bang is. Vir pandemies en kroniese siekte bang is. Die Woord hang ons vrees op aan die woorde wat sê: Moenie bang wees nie. Die enkele frase in die Bybel word 366 keer herhaal, vir elke dag van die jaar, plus nog een ekstra. Jesus self het telkens die mense van sy dag gerus gestel deur te sê: Moenie bang wees nie.
Haakplek 5: Jy mag verwerp en ongeliefd voel – God gee nie alleen Sy liefde nie, maar Sy Seun

Johannes 3:16 (Nuwe Vertaling)
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Die vyfde haakplek is die gerusstelling dat ons gevoel van verwerping, veroordeling en ongeliefd wees, dadelik vervang kan word met die sekerheid dat Jesus self Sy liefde in oorvloedige maat aan ons gee. Dat Jesus – die bron van liefde – homself aan ons gee.
Haakplek 6: Jy mag aan die einde van jou kragte kom – God self gee jou krag om vir alles kans te sien

Filipense 4:13 (2020-Vertaling)
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
Die halfdosyn haakplekke vir ons hart vandag:
“Ek is moeg.”, sê jy. “Ek gee jou rus.”, sê die Here.
“Ek voel alleen.”, sê jy. “Ek is met jou.”, sê die Here. “Al die dae van jou lewe.”
“Alles voel onmoontlik.”, sê ek. “Ek maak die onmoontlike moontlik.”, sê die Here.
“Ek is bang.”, sê jy. “Moenie bang wees nie.”, sê die Here.
“Ek twyfel soms of mense my liefhet.”, sê ek. “Ek het jou lief.”, sê die Here.
“Ek kan nie.”, sê ek. “Jy is tot alles in staat.”, sê die Here.
Ons is mens. Ons emosies kan ons op sleeptou neem. Ons denke kan ons laat vasdraai. Ons is ook medemense. Soms krap ons emosies verhoudings deurmekaar en soms is ons denke te krities om gemaklik saam met ander te werk en te kerk en te leef. Swan maak ‘n stelling in reël 9 van haar gedig “Winter” (Lamentoso – Ervarings van pyn, 2025:18) oor die menslike stryd wanneer emosies en denke tot die uiterste toe beproef word:
“Gevriesde emosies maak siek.”
Hierop reflekteer Van der Merwe (bl.19) onder andere met ʼn aanhaling van Albert Camus.
“In the depth of winter, I finally learned that within me there lay an invincible summer.”
Dit noop ons om aan te hou om jou te bemoedig met die woorde – HOU aan OM te HAAK aan die Woorde van GOD!
Wanneer jy moeg is, rus by God.
Wanneer jy alleen is, ervaar God.
Wanneer jy dink iets is bo jou vuurmaakplek, dink weer.
Wanneer jy bang is, onthou vrees is nie die gees wat die Here vir ons bedoel nie.
Wanneer jy ongeliefd voel, weet dat God jou waarlik en onvoorwaardelik liefhet.
Wanneer als so onmoontlik lyk, kyk op en sien die uitkoms!
