Your cart is currently empty!
My reis met Stadium 5-permanente nierversaking
Johan Jansen van Vuuren

Ek deel my persoonlike reis met ʼn kroniese siekte omdat ek besluit het dat dit kan help om bewusmaking te kweek oor Stadium 5-permanente nierversaking met hemodialise drie keer per week.
Hemodialise drie keer per week – ʼn nuwe normaal
Dit was ʼn skok om tydens my hospitalisasie in Meimaand 2025, deur die nefroloog meegedeel te word dat ek – elke tweede dag vir die res van my lewe – dialise moet kry. In praktyk beteken dit dialise op Maandae, Woensdae en Vrydae. Ek word gedwing om onmiddellik die nuwe normaal te hanteer. Daar is geen keuse daaroor van my kant af nie. Dit is eenvoudig ʼn lewensnoodsaaklike realiteit.
Hoekom hemodialise drie keer per week noodsaaklik is
Wanneer ʼn mens se niere tot net ongeveer ses persent van hul normale funksie daal, bevind ʼn persoon hom- of haarself met Tipe 5-nierversaking (ook bekend as eindstadium niersiekte). Op hierdie stadium kan die niere nie meer die liggaam se afvalstowwe, oortollige vloeistof of chemiese balans handhaaf nie. Sonder hulp begin gifstowwe vinnig in die bloed ophoop en die liggaam word gevaarlik oorlaai met vloeistof.
Hemodialise neem die rol van die niere oor. Die bloed word deur ’n masjien gepomp waar dit gefiltreer word om afvalstowwe (soos ureum en kreatinien), oortollige water en sout te verwyder. Dit help ook om belangrike minerale soos kalium en kalsium in balans te hou, maar omdat die masjien dit net tydens behandeling kan doen – nie 24 uur per dag soos gesonde niere nie – moet die proses gereeld herhaal word.
Daarom is dialise drie keer per week die internasionaal aanvaarde standaard vir mense met baie min oorblywende nierfunksie.
Hierdie frekwensie:
- voorkom giftige opbou van afvalstowwe tussen sessies.
- beperk vloeistofoorlading, wat andersins tot erge swelling, asemnood en hartversaking kan lei.
- hou kaliumvlakke stabiel, want te veel kalium kan hartritme-afwykings en selfs hartstilstand veroorsaak.
- ondersteun algemene welstand, energie, eetlus en goeie denkvermoë.
- verminder hospitalisasies en lewensgevaarlike komplikasies
Met net ses persent nierfunksie oor is daar bloot nie genoeg natuurlike filtrasie deur die niere om die liggaam veilig te hou nie. Balans en ontgifting moet dus kunsmatig gedoen word – gereeld, ritmies en betroubaar. Dialise werk egter nie perfek nie, maar drie sessies per week is die minimum wat klinies wys dat mense stabiel en veiliger bly.
Uiteindelik is hemodialise nie net ’n behandeling nie; by Tipe 5-nierversaking is dit lewensondersteuning. Dit vervang ’n funksie wat die liggaam self nie meer kan doen nie en maak dit moontlik om dag vir dag te leef, te werk, te beweeg en die beste moontlike lewenskwaliteit te behou.
My persoonlike ervaring met dialise
Dialise is in geheel vir my ʼn uitdagende ervaring. Dit vereis keuses en besluite wat dag vir dag geneem moet word. My nuwe normaal met hemodialise oorheers my lewe. Daar is geen oomblik dat dit fisies, emosioneel, psigies, sosiaal en geestelik nie ʼn uitdaging is nie. Dit voel asof ek in een dag nie net gevra is om ʼn koersaanpassing te maak nie, maar van trajek verwissel het. Ek is in ʼn nuwe wentelbaan gedruk en my liggaam, verstand en emosie moet probeer byhou.
Die dag na so ʼn dialise sessie is altyd vermoeiend. Ek is moeg en lê die meeste van die tyd. Ek sukkel baie met naarheid. Die uitdagings op alle fronte is geweldig – voor, tydens en na die dialise. Ek sukkel nog om gewoond te raak aan die nuwe omstandighede in my lewe. Vier uur is ʼn lang proses en ek dink dit voel vir my veel langer. Die gewag vir toegang tot ʼn masjien en die dialise neem die grootste gedeelte van drie weeksdae uit my produktiewe lewe. Ek vat dit stap vir stap.
Dankbaar vir ondersteuning
ʼn Nuwe normaal met hemodialise vra van my aanvaarding. Ek is eerlik daaroor – dit is geweldig moeilik. Trane is deel van my nuwe lewensbestaan terwyl ek hieraan probeer gewoond raak. Dit is werklik vir my baie moeilik, maar ek wil dit aanvaar, omdat dit vir my ʼn nuwe kans tot lewe en lewenskwaliteit gee. Daarom strek ek myself ook uit om dit met dankbaarheid te aanvaar. Ek is op ʼn pad van geestelike groei en aanvaarding.
Daar is dankbaarheid vir ʼn mediese fonds wat my peperduur mediese uitgawes betaal. My lewensmaat, my ouers, predikant en ander ondersteun my baie. Sonder ondersteuning sou die pad vir my haas onmoontlik gewees het, want ek besef my nuwe normaal stel geweldige uitdagings. Ek is bereid om dit head–on te face. Ek het die besluit geneem, naamlik dat ek nie myself aan die siekte gaan oorgee nie, maar alles aan God oorgee en die genade wat Hy verleen met ope arms aangryp.
Die stryd tydens dialise – ja, dinge verloop nie altyd goed nie
Intussen gaan my stryd voort met hierdie nuwe normaal wat my lewe dramaties kom verander het. Alhoewel hemodialise lewensreddend is, plaas dit fisieke spanning op die liggaam, omdat bloed vinnig skoongemaak en vloeistof in ’n kort tyd verwyder word. Daarom kan sekere newe-effekte voorkom. Hier is die mees algemene:
1. Lae bloeddruk (hipotensie) is die mees algemene newe-effek wat ekself dikwels ervaar. Dit gebeur wanneer te veel vloeistof te vinnig verwyder word en die
simptome is duiseligheid, naarheid, sweet, en soms verlies van bewussyn (genadiglik het ek dit nog nie ervaar nie). Die ergste is die naarheid waarmee ek worstel. Veral die dae na dialise. Dit tref my uit die bloute. Ek hou pille byderhand. My bloeddruk het ook ʼn paar keer lelik geval net voor die dialise klaargemaak het. Dit is oor die afgelope paar sessies meer stabiel. My liggaam begin seker nou gewoond raak aan die dialise.
2. Spierkrampe kom gereeld voor tydens of ná dialise.
Die oorsaak daarvan is vloeistofveranderinge en elektrolietverskuiwings wat die spiere prikkelbaar maak.
3. Hoofpyn word dikwels veroorsaak deur vinnige wisselinge in bloeddruk of vloeistofbalans.
4. Naarheid en braking is aaklig en hierdie simptome hou gewoonlik verband met lae bloeddruk of die wisseling van afvalvlakke in die bloed.
5. Moegheid en uitputting is ’n inherente aspek van die intensiewe proses van dialise en laat ʼn mens totaal uitgeput voel ná ’n sessie omdat die liggaam hard werk om aan te pas. Die grootste newe-effek van die dialise wat my vang, is die vreeslike moegheid wat ek ervaar. Ongeag die hindernisse wat opduik, besef ek dat ek moet deurdruk, want die mediese wetenskap is hier om my te help
6. Met kroniese niersiekte bou afvalstowwe soos fosfaat maklik op tussen dialise wat jeuk kan vererger. Ek het myself al stukkend gekrap.
7. Pyn of ongemak by die kateter soos rooiheid en swelling kan voorkom; enige infeksietekens moet altyd dadelik gerapporteer word. Higiëne is van die uiterste belang en alles word ontsmet om die risiko van infeksie te verminder. Die port op my bors met die invoer- en uitvoerpypies word goed ontsmet voor en na die dialise en word dan goed toegemaak met pleisters. Ek mag glad nie die area laat nat word nie uit vrees vir infeksie, want die port is direk gekoppel aan my hart en aorta.
Ek het eendag ʼn nare ondervinding gehad toe my dialiselyne nie ordentlik gekoppel is deur die verpleegpersoneel nie. Toe die dialisemasjien begin loop en pomp toe sien jy net bloed spuit – die wêreld vol. Bloed oor my klere, die beddegoed en die saal se vloer. Dit was ʼn gemors. Ek moes vir die hele sessie in die bebloede klere sit totdat ek kon huis toe gaan. Die hele gebeure het my getraumatiseerd gelaat. Gegewe my persoonlikheid het ek nie die personeel verkwalik vir die onaangename situasie nie, maar dit is wel nie aanvaarbare versorging nie.
8. Arteriële of veneuse naaldfoute – die dialisespan monitor dit baie fyn, maar die lekkasie van bloed of swak vloei kan soms voorkom. Daar is ʼn alarm op die dialisemasjien wat afgaan met ʼn boodskap op die skerm wat die inligting deurgee indien die dialisepype begin verstop raak en die bloed nie kan vloei nie. Die dialisemasjien tel alles op wat met jou verkeerd gaan en dit word ook so gepubliseer in die maandelikse rapporteringsverslae oor my behandeling en die vordering of hindernisse wat opduik.
9. Skielike kaliumverskuiwings kan die hartritme beïnvloed, daarom word elektroliete streng gemonitor.
10. Dialise-wanbalans gebeur wanneer afvalstowwe te vinnig verwyder word. Simptome sluit in hoofpyn, verwarring, rusteloosheid. Dialise eis maar sy tol en veroorsaak soms dat my bloeddruk val en partykeer stol my bloed. Wanneer dit gebeur verhoog dit die risiko vir bloedklonte wat lewensgevaarlik is. Ek gebruik soggens en saans bloedverdunningsmedikasie wat die dokter nou al aangepas het. Die kliniek spuit ook ʼn bloedverdunningsmiddel in die dialisemasjien voor die sessie begin.
Partykeer word te veel water onttrek en dan begin ek so sleg voel en sweet en dit is ʼn uiters onaangename situasie is. My bloeddruk val tot in my skoene. Dit voel of die lewe uit my loop.
Hoe word die hoeveelheid water bepaal wat tydens dialise onttrek moet word?
Hierdie deel is baie belangrik, want die regte hoeveelheid waterverwydering bepaal hoe veilig die sessie is.
Die sleutelbegrip is drooggewig. Drooggewig is elke pasiënt se ideale gewig ná dialise – wanneer die liggaam geen oormatige vloeistof het nie. Dit is basies die “ware” liggaamsgewig sonder waterretensie.
Dit word bepaal deur asemhaling, die mate van swelling van enkels en voete, bloeddruk, hartfunksie, die voorkoms en gevoel van elke pasiënt en die hoeveelheid water wat onttrek moet word. Daarvoor word die volgende eenvoudige formule gebruik:
Dialise – (minus) onttrekking = huidige gewig van persoon (drooggewig)
Voorbeeld:
- Huidige gewig by aankoms: 78.5 kg
- Bepaalde drooggewig: 76.0 kg
- Onttrekking nodig: 2.5 liter water
(1 liter water = 1 kg op die skaal)
Daar is ook ander faktore wat ingereken word en deur die nefroloog en dialisespan aangepas word:
- Tydsduur van dialise – hoe langer die sessie, hoe veiliger die verwydering.
- Hartgesondheid – swak hartfunksie kan nie te vinnige vloeistofverwydering hanteer nie.
- Bloeddrukneiging – mense wat sukkel met lae bloeddruk se onttrekking word dikwels verminder.
- Tussensessie vloeistofinname – hoeveel die pasiënt gedrink of water behou het sedert die vorige sessie (Wat beteken dat alle vloeistofinname aangeteken word).
- Dae tussen behandelings – na ’n naweek is daar gewoonlik meer vloeistof om te verwyder.
Hoekom is die presiese hoeveelheid water wat onttrek word so belangrik?
- Te min verwydering bring vloeistofoorlading wat aanleiding gee tot swelling, asemnood en hartversaking.
- Te veel verwydering veroorsaak lae bloeddruk, krampe, bewussynsverlies en hartritmeprobleme.
- Die regte balans bring ʼn stabiele, veilige dialise en ʼn beter kwaliteit van lewe.
Tans word daar tussen 1 en 1.5 liter water by my verwyder teen ʼn spoed van 300ml/min tydens ʼn dialise. Daar is egter ʼn risiko hieraan verbonde. Dit het reeds drie keer met my gebeur dat daar te veel water verwyder word en het my liggaam het in ʼn skoktoestand gegaan. Die dialise-masjien kan dit nie registreer nie. Ek moes self die aandag kry van die suster en haar vertel wat aangaan. Sy het dan die spoed verminder waarteen die dialise gedoen word en water gegee om te drink. Op die stadium hou my liggaam nie water terug nie en dit help om die berekening meer akkuraat te kan doen.
Ek is verantwoordelik vir my eie gesindheid en optrede
Ek wens dinge kan weer wees soos wat dit was voor die dialise. Dit is om nou baie eerlik te wees. Tog maak ek daagliks ook meer en meer vrede dat die Here die struikelblok met ʼn doel op my pad geplaas het en ek gaan die beste daarvan maak. Dit gaan nie help om morbied te wees nie, want net ek kan my situasie probeer verander en niemand anders kan dit namens my doen nie.
Ek het baie geestelike leesstof wat ek lees tydens die dialise. Die meeste pasiënte lê en slaap tydens die vier ure van dialise. Ek het my egter voorgeneem om die tyd anders te benut. Ek wil myself nie toelaat om uit te mis op die feit dat ek nog lewe en die beste kan maak van elke dag nie (Selfs elke tweede dag wat deur dialise in beslag geneem word nie.).
Ek raak gewoond dat daar elke maand bloedtoetse gedoen word en sien al uit na die verslag om dit te kan vergelyk met die vorige maand se uitslae. Dit help baie, want ek stel vir myself doelwitte in ʼn poging om seker te maak dat daar vordering en verbetering is.
Ek moes ook my dieet aanpas om my niere te ondersteun en ek moet versigtig wees met wat ek inneem as voedsel en vloeistof. Ek is terug werk toe en die werk is baie ondersteunend en tegemoetkomend teenoor my situasie en het my toestemming gegee om die dialisesessies elke tweede dag by te woon.
My tweede kans
Nee, dit is nie lekker om elke tweede dag hier by die kliniek deur my lewensmaat afgelaai te word nie en tog wanneer ek terugkyk, gaan die dae ook asof in ʼn oogwink verby. Ek het dit vir myself uitgemaak dat die Here my ʼn tweede kans gee en dat die dialise daar is om my te help om my fisies aan die gang te hou. Ek weet vandag dat ekself ook nooit werklik besef het wat ʼn mens deurmaak met die dialise nie. Ook nie die eise en die aanpassings wat jy moet maak nie. Dit is ʼn groot rede waarom ek graag my persoonlike ervaring deel.
Dit is moeilik en ingewikkeld om die nuwe normale omstandighede deel van jou alledaagse bestaan te maak. Sommige dae sien ek kans vir die dag met dialise wat voorlê en ander dae is dit vir my ʼn onoorkombare berg.
Daar is baie oggende wat en nie wil gaan vir dialise nie. Dan moet my lewensmaat sy stem dik maak en my herinner dat ek ʼn tweede kans gekry het – al kom dit met ʼn opoffering wat net vir myself is. Ons almal wil langer lewe en nou moet ek van die geleentheid gebruik maak.
