Your cart is currently empty!
HOE LEEF ʼn MENS MET CROHN SE SIEKTE – ‘N MOEDER SE OOGPUNT
Dalene Hartzer

ʼn Persoonlike reis
Die name, datums, plekke en gebeure is ware weergawes van ons gesin se reis met kroniese siekte. My gesin ondersteun hierdie openlike en eerlike vertelling van ons verhaal.
Ek wil ons reisverhaal begin met ʼn gedig wat ek in 2011, met Lana-Helen se geboorte geskryf het.
LANA-HELEN – ONS LIEFIE KIND
Kan ʼn mens liefde ruik? Sonder twyfel is my antwoord hierop – JA!!!
Die reuk van liefde is daardie wondersoete geur wat my Lana-Helen aan haar lyfie dra!
Jy is werklik soos jou naam sê – “Sagte Een”.
Vandat jy hier is, is daar vreedsaamheid en kalmte soos ʼn sagte reën.
Lana-Helen, Pappa en Mamma se Liefie-kind, ons is so ongelooflik bly jy is hier.
Elke oomblik saam met jou is ʼn oomblik van plesier.
Jou Ouboet Danie sê jy is sy “Nana” en jy is beautiful.
Hy glo natuurlik jou koms is spesiaal en net vir hom bedoel.
Jy is pragtig, perfek, volmaak
en dis vir my ʼn voorreg om as Mamma oor jou te mag waak.
Pappa en Mamma is absoluut, totaal versot op jou.
Ons sal jou vir altyd en ewig met ons liefde toevou!
Die begin met Danie
Die beste plek om te begin, is by die begin. Daarom gaan ek so ʼn bietjie agtergrond gee om dinge beter te verduidelik. Ons gesin se begin is natuurlik met my en Johnny Hartzer se troue op 25 Januarie 2003 en die geboorte ses jaar later van ons oudste kind, Danie op
2 April 2009.
Ons vertel altyd dat ons kinders se lewens verloop soos wat hul beplanning en geboortes verloop het. Ouboet Danie was haarfyn beplan en vir sy koms is deeglik voorberei. Sy babakamer was reeds op vier maande swangerskap klaar gereed. Ek het sy doeksak wat hospitaal toe moes gaan tot vervelens toe uit- en ingepak en met tiklysies gekontroleer. Selfs die keisersnee het tot op die minuut volgens plan verloop.
So leef ons seun dan ook sy lewe – volgens plan. Danie hou nie daarvan wanneer dinge onverwags verander nie en hy wil tot in die fynste detail weet presies wat, hoe en waar dinge gaan gebeur. Hy is ons dromer, sagte siel, gentle giant en leef met integriteit en het ʼn hart vir mense.
Lana, ons tweede is op pad
Lana-Helen (sy verkies dat ek net Lana gebruik) is op 18 Desember 2011 gebore. Ja, sy was ook ʼn beplande baba, maar die verskil het sommer gou ingetree. In plaas daarvan om soos Danie te wag vir 4 maande voordat die swangerskaptoets ʼn dubbelstreep gemaak het, was Lana haastig en was ek binne twee weke swanger met haar. Met haar geboorte was sy toe twee jaar, agt maande en twee weke jonger as Danie.
Soos met Danie was my swangerskap met Lana sonder probleme, maar op sewe maande het ons steeds nie geweet of ons nuwe pienkvoet gaan sit of staan om te piepie nie. In ons harte was ek en Johnny oortuig dat ons tweede kind ʼn dogtertjie sal wees en ons het reeds van Lana gepraat. Danie het ook dadelik na sy ongebore “sussie” as Nana verwys.
Lana se keisersnee was beplan vir 2 Januarie 2012, maar die girl van ons het ander planne gehad. Sy het sommer gou-gou vir ons gewys dat sy nie ʼn “agtergrondkind” gaan wees nie. Op die 16de Desember 2012 het ek groot ongemak ervaar en bloed in my urine het niks goeds voorspel nie. Ons is dadelik hospitaal toe en na ʼn ondersoek en monitering is vasgestel dat alles in orde is. Ek het ʼn erge blaasinfeksie gehad, maar ons drietjies is huis toe.
Lana se geboorte
Ons was dankbaar dat ons soos wat ons beplan het steeds die 17de Desember as gesin inkopies kon gaan doen. Danie het die laaste keer in sy stootwaentjie gery, want hy sou dit nou afstaan aan Nana en het sommer ook sy dummy by die venster uitgegooi, want ʼn ouboet kan tog nie aan ʼn dummy suig nie. Alles was steeds “on track” en ons was gelukkig.
Lana Hartzer het egter ander planne gehad. Die aand van die 17de Desember het ek vir Johnny gesê ek dink nie Lana gaan langer wag nie en dat hy my hospitaal toe moet vat. Die nodige toetse is gedoen en alles is gemonitor. Alhoewel ek kontraksies gehad het, is ek die versekering gegee dat alles onder beheer is. Ek het ʼn inspuiting vir pyn gekry en Johnny is teen 23:00 huis toe.
Toe ek teen 02:00 die oggend weer erge pyn ervaar, is ek gereed gemaak vir die teater en het Johnny laat weet dat hy moet kom. Hy was teen 02:30 langs my bed. Die res is geskiedenis. Ons blou-oog, blondekopdogtertjie is om 03:00 die oggend van 18 Desember 2011 gebore. In ooreenstemming met haar geboorte – onverwags en vinnig – so leef sy haar lewe.
Lana is ons cheecky bek, ʼn go-getter, sy sing en dans en is laf terwyl sy nie omgee wie kyk nie. Sy gee alles van haarself, Sy is ʼn breath of fresh air, maar sy het ʼn klein hartjie en gee om vir haar geliefdes. Lana is sag en donsig – getrou aan haar naam se betekenis.
God se hand in my kinders se lewens
Ek is gebore met ontwrigte heupe en daarom het ek telkens met die geboorte van my kinders ʼn keisersnit gehad. Omdat die ontwrigte heupe ʼn genetiese toestand is, is albei dadelik met geboorte daarvoor getoets. In albei was die toetse negatief. Daar het ek reeds God se hand in my kinders se lewens ervaar. Ek het hom geloof en prys vir Sy antwoord op my gebede dat my heupprobleme by my sal stop.
So begin die lewensreis van Lana as vierdie lid van ons Hartzer gesin. ʼn Reis wat onvoorspelbaar sou wees en groot uitdagings ingehou het, maar waarvan ons geen vooraf waarskuwing gekry het nie.
Ek wil dit graag hier noem dat ons gesin saam besluit het om ons verhaal te deel. Die doel daarvan is eenvoudig eerstens om God daardeur te verheerlik en tweedens om ander wat in soortgelyke omstandighede is verseker dat daar altyd hoop is. ʼn Diagnose beteken nie noodwendig die einde van lewenskwaliteit en betekenis nie. Daar is genadiglik ook dokters, spesialiste en medisyne – alles uit die Here se hand. As gesin glo ons dat daar hoop is omdat God vir ons ʼn werklikheid is. Ons sal altyd sosiale media posts merk met #bid-glo-vertrou
