ʼn Plek om my oog te vestig

Drs. S van der Merwe en T. Kleynhans

Dit is ʼn baie-baie ou vraag die. Meer as tweeduisend jaar oud. Lank-lank gelede al deur gelowiges gevra:

“…waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

ʼn Vraag wat ingebed is in die pelgrimstog van die gelowige Israeliet op pad na Jerusalem. Op pad na die tempel. Op pad om te gaan kerk. Met gesin, familie en vriende wat saam die tog aanpak. 

Eintlik is dit nog ouer. Dit is ʼn vraag uit die oertyd. ʼn Vraag in die hart van die eerste mense – toe die wêreld nog jonk was en dinge geheel anders. 

Dit was die begin van die knaende onsekerheid. 

Dit was die begin van die voortdurende twyfel. 

Dit het gegroei soos aggressiewe kanker. 

Daar was geen keer aan die erosie van vertroue nie en vandag is dit steeds nie anders nie.

Behalwe dat ons bietjie sekerder is van ons eie vermoë om die lewe aan te pak en ʼn redelike mate van sukses te bereik. Omdat ons die tegnologie aan ons diensbaar gemaak het om die lewe te beveilig met CCTV-kameras, met selfoontegnologie en bykans elke moontlike gerief. Omdat die skatryk entrepreneur gou op ʼn Saterdagmiddag vir ʼn ruimtevlug inboek en terugkeer aarde toe asof dit ʼn rit om die spreekwoordelike blok is. Dikwels het ons baie beheer oor waar ons wil gaan en wat ons wil doen. Dikwels het ons die middele en die vermoë om alles moontlik te maak. Ons leef redelik selfstandig en sonder hulp van ander en van Bo.

Tot Covid-19 die mat in 2020 onder ons uitgeruk en ons nie meer vastrapplek soos vroeër, vir ons voet gevind het nie. Totdat kroniese siekte ons so afmat dat ons ʼn rusplek vir ons siel moet soek. Totdat konflik en wêreldgebeure aandring dat ons ʼn stilhouplek op die hoofweg van die lewe vind. Totdat ons uitroep: 

“Ek is moeg – dit is onmoontlik om aan te gaan!”

“Ek is alleen – niemand is vir my daar nie!”

“Ek kan nie meer nie – ek is bang!”

Dan neem dit ons terug na die vraag van die pelgrim: Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

Dit neem ons terug na mense wat reeds voor dít begin worstel het met die behoefte aan hulp. 

Adam en Eva? 

Nee! 

Selfs verder terug in tyd en ontdek dat die suggestie van hulpeloosheid van die slang van ouds kom. Nou is ons by die oorsprong van die vraag: “Waarvandaan sal my hulp kom?” 

Is dit nie immers presies wat die slang gesuggereer het nie?

Hoe weet julle dat God werklik omgee? Watter sekerheid het julle dat God alles nie maar om eie gewin doen nie? Erger nog – miskien gebruik God julle net vir eie vermaak. Waarom sal dit logies wees om God klakkeloos te vertrou? Watter waarborge is daar vir God se standhoudende ondersteuning? Wie weet of God nie sommer eendag lukraak gaan besluit om sy betrokkenheid met julle en die skepping op te gee nie?

Vals persepsies word op hierdie wyse in die gemoed van die eerste mensepaar gesaai. Wanbegrippe ontkiem en begin vorm aanneem. Soos in die stokou fliek – Little Shop of Horrors – groei die wantroue saadjie. Wantroue groei tot ʼn monsterplant wat alle geloof in die goedheid en guns van die Skepper verswelg. Onsekerheid stoot op uit die donker dieptes soos ʼn vuurspuwende vulkaan. Soos rook en gas wat in die lug geblaas word, so word die uitsig op die heerlikheid van die Skepper afgeblok. Soos die lawa wat uitgeskiet word, en die omgewing vernietig, word die hoop en geloof en vertroue van die mens doodgeskroei.

Dis hoe dit gebeur het met die eerste mensepaar en met hul kinders en nageslagte. So ook met die pelgrim en sy gesin. Net so gebeur dit met ons. Totdat ons ook uitroep: 

Waarvandaan sal my hulp kom?

Dan kyk ons wanhopig op na die lewensberge. Roep ons moedeloos na hulp. Soek ons radeloos vir uitkoms. Voel ons so alleen wanneer ons die aanslae van die lewe beveg. Kry bangheid ons laatnag beet en wurg die asem uit ons lyf. Bekruip onsekerheid ons soos ʼn leeu sy prooi.

Dit is natuurlik dat ʼn mens sal opkyk – tot by die spits van ʼn berg – en dan bring dit ʼn sekere gevoel van ontsag. Die hoogte van die berg en die grootte daarvan het veral vir die antieke mense groot onsekerheid beteken omdat hulle in bygeloof geglo het dat gode hulself tuismaak op berge en hul met die verbygangers bemoei. Daarom was so ʼn reis tussen berge altyd ingewikkeld en onseker. Buiten die werklike gevare van die oudwêreldse reise te voet, oor lang afstande, was die gevaar van onvriendelike berggode immer in die bewussyn. 

So vind ons soos die spreekwoord sê, die pelgrim tussen die duiwel en die diep blou see en daar in sy bestaanskrisis roep hy uit: “Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?” Wie gaan my en my gesin beskerm? Hoe gaan ons veilig by ons bestemming kom? 

Kom ons kyk vinnig na die drie hoogste bergpieke in ons wêreld.

Hierdie 8000m plus berge troon indrukwekkend in hul grootte en hoogte en reik na die hemel. Vreesaanjaend in hul magsvertoon. Slegs die braafste klimmers pak hul aan na jare se voorbereiding. Sommige bereik die pieke. Meer moet die aftog blaas. Sommiges sterf op die klimroetes waar hulle lê as stille getuienis van die berge se onoorwinlikheid.

Hoeveel moeë bergklimmers lees hierdie boodskap? Hoeveel uitgeputte mense snak na hul laaste asem teen die hange van die lewe? Hoeveel mense se geloof is besig om deur wantroue en ongeloof in God weggevreet te word? Wie roep in benoudheid en met smeking na iets of iemand wat sou instaan en ingryp, intree en sekerheid bring?

Ons het reeds vasgestel dat ons ʼn behoefte het aan ʼn rusplek vir ons siel – ʼn rusplek vir ons moeë self. Ons het reeds ons behoefte aan ʼn vastrapplek vir ons voet geformuleer – ʼn vastrapplek in die glibberige lewe. Ons het behoefte aan ʼn haakplek vir ons hart sonder twyfel bevestig – ʼn haakplek vir ons onstuimige hart. Vandag voeg ons een by. 

Ons het ʼn plek nodig om ons oog te vestig. 

Ons het iets – sal ons sommer van die begin af sê – Iemand nodig om na te kyk en ons te herinner aan die liefde van die Skepper. Ons het ʼn visie nodig op die heerlikheid van die Here sodat ons moed sal skep om aan te gaan. Ons het nodig om op te kyk en vas te kyk volgens die voorstel van Hebreërs 12:2 (AFR83)

“die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof.”

Hebreërs 12:2 (AFR83)

Ons het weer nodig om die monsterplant van ongeloof te takel met die wapenrusting van God. Ons het weer nodig dat die son van geloof skyn om die drogwolke van twyfel uit die weg te vee sodat ons uitsig op die Here sonder hindernis is. Ons het weer nodig om die vernietiging van die hulpelose gevoel in ons hart te besweer met die wete dat Jesus die Begin en Voleinder van ons geloof is. Wanneer twyfel ons verswak – dan is dit die Woord waaraan ons haak. Die Lewende Woord waarheen ons ons oog rig.

Vestig vandag jou geloofsoog op die 

Skepper-Woord

Verlosser-Woord

Konings-Woord

Rig jou oog op en sien vir Jesus. Rus jou oog op Hom. Volg Hom soos die Wyse manne Sy ster gevolg het. Hoor die engelkore. Kniel by die krip. Volg Hom deur die Judese landskap en dorpies waar hy sy bediening uitleef. Loop saam tot by die kruis. Kyk op! Sien Hom waar hy hang – hang vir JOU – Offerlam. Sien Hom waar Hy sterf – vir JOU – Paaslam. Sien Hom drie dae later – opgestaan uit die dood – vir JOU – Oorwinnaar oor die dood. Kyk hoe hy opvaar na die hemel en waar Hy koninklik regeer – oor JOU – Koning van alle konings

Vestig vandag opnuut JOU oog op die Here. 

Ja, ons vra nie meer waar sal ons hulp vandaan kom nie. Ons weet dat die Skepper ons NOOIT sal verlaat nie. Hy sal ons NOOIT in die steek sal laat nie. 

Kom medereisiger, laat ons verder stap in geloofsvertroue. Met ʼn plek om ons oog op te vestig. Met Hom in die oog – Jesus ons Here.

Luister na Psalm 121 – Marthie Nel