ʼn WEN BLY ʼn WEN! 

Daar is ook goeie dae met Diabetes Mellitus  

10 Desember 2025 

Charl van der Merwe 

My persoonlike reis met Diabetes Mellitus deel ek met Kroniese Kronieke om bewusmaking te vergroot en informasie te verskaf aan elkeen wat op een of ander manier met hierdie siekte moet saamleef.  

ʼn Dag om oor te skryf 

Ja, daar bestaan wel iets soos goeie dae in my diabetesreis. ʼn Mens wonder dikwels of dit moontlik is en soms voel dit of daardie dae nooit sal kom nie, maar so elke nou en dan maak so ʼn dag wel sy opwagting en dan is dit die moeite werd om dalk iets te sê of daaroor te skryf. Vrydag 3 Oktober was so ʼn dag.  

Dit was tyd vir my 6-maandelikse ondersoek by die internis asook by die oftalmoloog. Saam met ʼn voet- en ʼn dieetkundige, is dit die vier belangrikste gesondheidswerkers wat ʼn persoon met diabetes elke jaar moet besoek. Diabetes is ʼn komplekse outo-immuunsiekte en omdat dit soveel verskillende dele van die liggaam kan aantas of beïnvloed, is dit nodig om ʼn multidissiplinêre aanslag te gebruik om die siekte te bestuur.  

Besoek aan die oftalmoloog 

Die dag het begin by die besoek aan die oftalmoloog by The Ear & Eye Clinic in Alberton. Diabetes kan lei tot mikrovaskulêre komplikasies – wat beteken dat die klein bloedvaatjies wat in die oë, senuwees en niere gevind word, aangetas kan word. In die geval van die oë, kan hierdie mikrovaskulêre komplikasies sig beïnvloed. Een van die mees algemene diabetes-verwante oogkomplikasies is diabetiese retinopatie (DR). DR is progressiewe skade aan die bloedvaatjies in spesifiek die retina (die ligsensitiewe weefsel aan die agterkant van die oog wat nodig is vir goeie visie).  

In my geval is hierdie ʼn belangrike deel van my jaarlikse ondersoeke aangesien die oftalmoloog ʼn jaar gelede tekens van ligte antiproliferatiewe DR raakgesien het. Ligte tot matige antiproliferatiewe DR (die eerste van die vier fases van DR) beteken dat daar klein areas van swelling in die bloedvaatjies van die retina voorkom, wat mikro-aneurismes genoem word. Dit beteken ook dat die skade nie ver genoeg gevorder is om die ontwikkeling van nuwe, abnormale bloedvaatjies (die liggaam se poging om die beskadigde vaatjies te vervang) te veroorsaak nie. In my geval kon die gebruik van twee verskillende soorte oogdruppels binne 6 maande die swelling laat sak.  

Met hierdie opvolgafspraak in Oktober 2025 – wat 6 maande later (na die behandeling met die oogdruppels) plaasgevind het, kon die oftalmoloog geen huidige tekens van moontlike mikro-aneurismes sien nie. Haar woorde was inderwaarheid dat my oë “briljant” lyk. Na 25 jaar van diabetes voel dit nogal na bietjie van ʼn oorwinning as die oftalmoloog sover gaan as om die woord “briljant” te gebruik.  

Besoek aan die internis 

Die tweede besoek van die dag was aan die internis by die Centre for Diabetes and Endocrinology (CDE) in Houghton. Die CDE is ʼn omvattende sentrum vir diabetes wat onder een dak hul eie laboratorium asook ʼn span van twee endokrinoloë, die internis, ʼn voetkundige, ʼn dieetkundige en diabetesopvoeders (verpleegpersoneel met spesialisasie in diabetesbestuur) het. 

Jaarlikse bloedtoetse noodsaaklik 

Een maal per jaar word ʼn daar ook ʼn reeks bloedtoetse gedoen wat die volgende insluit:  

  • ʼn Lipiedprofieltoets wat cholesterolvlakke meet.  
  • ʼn Urienetoets wat die albumien-tot-kreatinien verhouding in jou liggaam toets. Albumien is ʼn proteïen wat in bloedplasma gevind word met die funksie om te verseker dat daar ʼn balans van vloeistowwe in jou liggaam is deur te verseker dat daar genoegsame vloeistof in die bloedvate is, asook om noodsaaklike stowwe soos vitamiene en hormone deur die liggaam te vervoer. Lae vlakke van albumien kan ʼn indikator wees van nier- of lewerskade.  
  • ʼn Bloedkreatinien- en glomerulêre filtrasietempotoets wat aandui hoe goed die niere afvalstowwe uit die bloed filtreer.  
  • ʼn Skildklier-stimulerende hormoontoets wat die werking van die skildklier toets aangesien probleme met die skildklier bloedglukose beheer kan bemoeilik.  
  • ʼn Volbloedtellingtoets vir enige abnormale waardes in die liggaam.  
  • ʼn HbA1c-toets (hierdie toets word twee maal per jaar gedoen). HbA1c staan vir hemoglobien-A1c, ook bekend as geglikeerde hemoglobien. HbA1c vorm wanneer glukose vasklou aan die hemoglobien rooibloedselle. Hoe langer glukose in die bloed hoog is, hoe hoër sal die HbA1c telling wees, aangesien daar dan meer glukose beskikbaar is om aan die hemoglobien te heg. Hoe hoër die HbA1c-telling, hoe groter is die kanse vir die ontwikkeling van diabetes-komplikasies soos retinopatie, hartsiektes, nierversaking, neuropatie en skade aan die voete.  

HbA1c word as ʼn persentasie voorgestel. ʼn HbA1c-telling van onder 7% sou perfek wees vir ʼn Tipe-1 diabeet soos ek, maar dit is nie maklik om by ʼn telling van laer as 7% uit te kom nie. ʼn HbA1c-telling van laer as 7% verg uiters goeie bloedglukose beheer, ʼn baie gedissiplineerde dieet en gereelde oefening. Iets wat ek nie die laaste paar jaar so goed reggekry het nie. ʼn HbA1c vlak van bo 8% begin kommerwekkend raak en enigiets bo 9% begin gevaarlik raak. My HbA1c vlak was in my 25 jaar van leef met diabetes genadiglik nog baie min hoër as 8%. My HbA1c vlak was al dikwels en vir lang tydperke tussen 7.5% en 8%, waar dit dan ook tans is. Die goeie nuus, al was dit hoe klein, was dat my HbA1c vlak gedaal het van wat dit 6 maande gelede was. Ses maande gelede was die telling 7.8% en dit was nou in Oktober 7.5% – ʼn daling van 0.3%.  

ʼn Goeie dag by die dokters 

Al die uitslae van die bogenoemde toetse was nou in Oktober ook 100% binne die teikens waar dit moet wees. Dit was dus, alles inaggenome, ʼn goeie dag by die dokters.  

Soms is die goeie van die nuus van ʼn dokter die feit dat die woord “briljant” gebruik word. Soms is die goeie nuus ʼn verbetering van net 0.3%. Miskien is dit presies die punt: die strewe na enige geringe verbetering en goeie nuus of uitslag. Ons strewe na verbetering ten opsigte van die bestuur van ons siektes is ons mikpunt en motivering. 

Wanneer ek oor dit alles nadink – ’n wen bly ʼn wen!  

Ja, ek is nie die wêreld se beste diabeet nie, maar ook nie roekeloos of ongeërg oor my siekte en die selfbestuur daarvan nie. Ek probeer my beste, selfs al is my beste op hierdie stadium net 0.3% beter. Wie weet, oor 6 maande, is dit dalk 0.5% beter, maar op hierdie stadium is ek dankbaar vir die klein oorwinnings, want ʼn wen bly ʼn wen!