Hoe leef ʼn mens met Crohn se siekte – ʼn moeder se oogpunt 

Dalene Hartzer 

ONS BID, ONS GLO, ONS VERTROU

ʼn Persoonlike reis

Die name, datums, plekke en gebeure is ware weergawes van ons gesin se reis met kroniese siekte. My gesin ondersteun hierdie openlike en eerlike vertelling van ons verhaal.  

Ek wil ons reisverhaal voortsit met ʼn gedig wat ek in 2021, toe Lana ʼn groot terugslag beleef het, deur trane heen, op ʼn skryfblok geskryf het.  

Ons Bekkie wat sommer voor ʼn spieël in klerewinkels dans – 

Jy lê nou net kragteloos, soggens tot saans. 

Ons “VLEIS-MEISIE” wat altyd die grootste tjoppie en Bacon met die meeste vet wil hê – 

Wie sou ooit kon raai dat jy vir jou gunsteling Salmon roses, nee sou sê. 

Jy wat van geboorte af soos liefde ruik, ons mooiste blonde-kop-blou-oog-kind. 

ONS BID, ONS GLO, ONS VERTROU dat jou maer en brose lyfie weer daardie aansteeklike energie sal kry. 

2021

Onervare of arrogant? 

Wanneer ek terugdink – hoe trots ek altyd was oor my kinders se gesondheid, so asof dit my prestasie was – sak ek my kop in skaamte oor my onervarendheid. Was dit dalk eerder arrogansie?  

Gedurende April 2019 toe Lana agt jaar oud was, het sy eendag gekla dat haar nek seer was. Ek het dokter-dokter gespeel en gevoel dat haar kliere geswel is. Sy het ʼn koors van 40 grade Celsius gehad. Ons gesin se diagnose was dat sy pampoentjies onder lede het en dadelik ʼn doktersafspraak gemaak.  

Ons huisdokter het vir Lana ondersoek en verbaas opgemerk dat hy nie kan glo dat sy normaal eet en drink nie. So ook dat sy van haar nek kla en nie van haar keel nie. Haar keel was so vol rou sere dat dit bykans toegeswel was.  

Mangelontsteking 

Die diagnose was toe nie pampoentjies nie, maar mangelontsteking. Hoe kon ek dit misgekyk het? So leer ʼn ma!  

Ek ontdek toe dat Lana ʼn hoë pyndrumpel het en daarom eers van pyn gekla het toe sy reeds ernstig siek was. Dit het ons laat besluit om tydens die halfjaarvakansie Danie en Lana se mangels te laat verwyder. Die operasies het goed afgeloop en Lana het van die eerste dag geëet net wat sy wou. Danie – nou ja, Danie het drie weke geweier om vaste kos te eet.  

Moeilike dae broei 

Ongeveer drie weke na die operasie is ek saam met Lana in die badkamer om te help met haar higiëne. Sy het met sekere toiletroetines gesukkel en ek het haar daarmee gehelp. Later sou ons uitvind hoe die vurk in die hef steek. 

Ek merk die spesifieke dag ʼn bloederigheid met die afvee en maak dit af as ʼn klein bietjie bloeding (klein aartjie wat dalk gebars het) omdat sy ʼn bietjie hard gedruk het. Hoe verkeerd weereens my diagnose. In die volgende twee weke word hierdie bloeding in so ʼn mate erger dat dit in die toilet drup sonder dat sy enigsins druk. Ek het seker gemaak dat die bloeding van die boudjies kom en het selfs foto’s geneem.  

Ons maak ʼn afspraak met die dokter. Ek het hom gevra of hy Lana die verleentheid sal spaar en haar sonder ʼn ondersoek na ʼn pediatriese chirurg sal verwys, waarop hy een honderd persent in ooreenstemming was.  

ʼn Week later is Lana in Alberton-kliniek opgeneem sodat ʼn scope gedoen kon word. Ons is daarna huis toe met die belofte van die chirurg dat hy ons sou kontak met die uitslae. Die bloeding het egter so vererger dat my man die chirurg gekontak het en vir hom foto’s aangestuur het. Binne ʼn halfuur het hy teruggeskakel en ʼn afspraak is vir Lana by ʼn gastroënteroloog gemaak. Dit was vir my ʼn groot naam en moeilik om uit te spreek. Ek moes die betekenis daarvan gaan oplees en ek skrik, want hiermee saam kry ek ʼn lys siektes waarvan ek nog nooit gehoor het nie. My kinders het nog nooit eers ʼn kindersiekte gehad nie en hier sit ek met hierdie noodafspraak by die grootnaam-spesialis.  

In God se hande 

Ek en my man was oorweldig deur die skielike gebeure en uitermate bekommerd. Ons het geen idee gehad wat fout kon wees met ons pragtige en op-die-oog-af gesonde dogtertjie nie. Ons het wel een besluit geneem en dit was om alles in God se hande te los met die wete dat watter diagnose ook al gemaak word, Hy vir Lana en vir ons gesin sou dra.  

Toe ons God se heel eerste guns aan Lana bewys deur vir haar ʼn vroue-spesialis te gee, het ek sommer ʼn groot sug van verligting geslaak. Ek was so seker dat sy my meisiekind sagkens en met deernis sou ondersoek.  

ʼn Tweede gawe uit God se hand was dat hierdie spesialis met ons gepraat het in “gewone mense” taal. Ons kon verstaan wat sy sê en haar verduidelikings het sin gemaak.  

Laastens het sy onmiddellik met ons agtjarige Lana self gepraat en haar ge-claim as pasiënt. As ouers het ons agtergrondinligting kon gee en sekere vrae meer breedvoerig beantwoord, maar sy het direk met Lana gepraat. Dit was verfrissend en gerusstellend. Ons het twee ure later by haar spreekkamer uitgestap met die teater wat ʼn week later geboek is.  

Toets op toets op toets 

Lana was die volgende week geskeduleer vir elke moontlike scope, bloedwerk en ander prosedure. Die spesialis het voor die toetse reeds aangedui dat Lana een van twee outo-immuunsiektes het. Dit was ulseratiewe kolitis of Crohn se siekte.  

Albei hierdie outo-immuunsiektes is kronies en kan nie genees word nie. Dit kan slegs behandel en onder beheer gehou word, terwyl sommige pasiënte wel tydperke van remissie ervaar. Ek het sommer dadelik ʼn kopbesluit geneem en besluit dat Lana vir seker in remissie sal gaan, WANT GOD! 

Die gastroënteroloog het wel gesê dat indien mens ʼn keuse sou hê, die ulseratiewe kolitis ‘n minder aggressiewe siekte is, maar dat almal moet wag vir die uitslag van die toetse. Ons is daardie dag huis toe met die gemoedsrus dat Lana se spesialis ʼn engel uit die hemel is, maar ook was daar baie vrae en onsekerheid in ons gemoed oor Lana se toekoms. Weereens het ons besluit om God ons Stuurman te maak en dat ons by Sy besluit sal berus.  

Natuurlik het ek aan die deur van dokter Google gaan klop. Dalk moes ek nie, want dit was vreeslik ontstellend om die goed oor ulseratiewe kolitis en Crohn se siekte te lees. Tot my groot ontsteltenis was daar simptome wat Lana gewys het, wat ek afgemaak het as klein-dogertjie-stoutwees as sy byvoorbeeld gesukkel het om bed toe gaan. Ek het soos die slegste ma onder die son gevoel.