Your cart is currently empty!
My reis met Stadium 5-permanente nierversaking
Johan Jansen van Vuuren

7 Mei 2025 – My reis met permanente nierversaking begin
Ek deel my persoonlike reis met ʼn kroniese siekte omdat ek besluit het dat dit kan help om bewusmaking te kweek oor Stadium 5-permanente nierversaking met hemodialise drie keer per week.
My liggaam is ooreis en ek word in die hospitaal opgeneem
So breek 7 Mei 2025 aan. Dis weereens ʼn dag van groot ongemak. Nog ʼn dag van onsekerheid. Gedagtes wat met my praat. Die ongemaklikheid met myself. Die gejeuk van my vel waar dit so erg is dat ek voel of ek dit kan afkrap. Geswelde enkels, maar die ergste, die naarheid en braking wat bykans klokslag elke 10 minute oorneem. My liggaam reageer simptomaties, maar die oorsaak is steeds onbekend.
Die absolute moegheid wat oor my liggaam vloei na so ʼn sessie van naar wees, is onbeskryflik. Dit voel of die lewe uit my getap word. Die duiseligheid en wanbalans laat my slingerloop soos ʼn lyf met geen rigting nie. My gedagtes sê vir my iets groot is fout. Tog probeer ek dit ignoreer. Dan sê my lewensmaat dat ons nie nog kan wag tot more nie. Hoe weet ons alles sal dalk ten goede verander?
“Tot hiertoe en nie ʼn tree verder nie.”, sê hy. “Ek neem jou nou hospitaal toe!” So beland ek 15:30 by die hospitaal en ʼn geskarrel begin. Almal hardloop rond en doen toetse.
Die nefroloog se diagnose tref my soos ʼn staalvuis
Die nefroloog daag ʼn paar uur later by my op en sê vir my dat hy nie goeie nuus het nie: “Jy het Stadium 5 nierversaking en sal onmiddellik moet begin met dialise.” Ek hoor sy woorde, maar kan nie die volle werklikheid daarvan inneem nie. Skok en ongeloof tref my soos ʼn ystervuis.
Stadium 5-nierversaking met hemodialise drie keer per week
Na my nierbiopsie is die volgende bevestig:
- Ek het permanente nierversaking. My niere het ʼn funksionering van slegs ses persent.
- Die oorsaak is ʼn inwendige infeksie wat die bloedvloei na my niere so erg verminder het dat my niere skade opgedoen het.
- My enigste vooruitsig om my situasie te verander, is ʼn nieroorplanting of weeklikse dialise vir die res van my lewe.
- Daar is geen ander behandeling of medikasie beskikbaar om my niere se funksionering te verbeter nie. Ek loop ook verder die risiko van infeksie van die niere.
Die permanente kateter word dringend in my hoofslagaar geplaas
Die dokter wil my oorplaas na ICU, maar die saal is vol. Hy sê toe vir die personeel hy kan nie wag nie en hulle moet gereedmaak vir ʼn noodprosedure. Hy gaan nou die permanente kateter in my nek plaas en vra my of ek toestem dat hy die prosedure in my kamer in die algemene saal uitvoer. Oorweldig deur alles sê ek net ja. Die permanente kateter word in my slagaar geplaas en in my regterbors geheg. Die nefroloog sê later vir my dat as ek nie hospitaal toegekom het nie, sou ek daardie selfde aand gesterf het.
ʼn Permanente kateter is ʼn tonnelkateter wat in ʼn groot aar geplaas word, gewoonlik in die nek of bors, vir langtermyn dialise of ander behandelings wat gereelde bloedtoegang vereis. Dit is ontwerp om weke of maande in plek te bly. ʼn Spesiale manchet onder die vel help om die kateter te beveilig en infeksie te voorkom.
My eerste dialise
So breek my eerste dialise-sessie van 4 ure aan om 19:00 daardie selfde aand as deel van my aanvangsdiagnose. Nou moet ek deel met dialise in my lewe terwyl ek nou hier in die hospitaal lê. Die verpleegster wat die koppeling met die dialise-masjien gedoen het, was baie bedagsaam en het my baie moed ingepraat tydens my eerste ervaring van dialise. Ek is van nature gespanne, maar met hierdie prosedure het my hart gevoel of dit buite my borskas klop. Ek kan nie vir enige iemand beskryf hoe dit voel wanneer jy jou bloed uit jou liggaam sien vloei deur pypies en buise om die funksie te verrig wat die niere nie meer doen nie.
Jy moet doodstil lê en mag nie beweeg nie, want enige beweging kan die funksionering van die dialise-proses beïnvloed. Jy sien hoe jou lewensgewende bloed uit jou liggaam vloei en deur beweeg na die dialise-masjien. Jou bloed wat jou aan die lewe moet hou en jou liggaam moet laat funksioneer. Dit was vir my erg traumaties.
Wat is nierdialise?
Nierdialise is ’n mediese behandeling wat help om jou liggaam se bloed skoon te maak wanneer jou eie niere dit nie meer behoorlik kan doen nie. Normaalweg verwyder die niere afvalstowwe, oortollige sout en water uit die bloed — soos ’n natuurlike filter. Wanneer die niere beskadig of verswak is, begin hierdie afvalstowwe en vloeistof opbou, wat gevaarlik kan wees vir jou liggaam. Dialise neem dan tydelik oor wat die niere sou doen.
Twee hoofvorme van dialise
- Hemodialise
Dit is die mees algemene vorm van dialise. Jou bloed vloei deur buise na ’n masjien (genoem ’n dialise-masjien of “kunsmatige nier”) wat dit deur ’n spesiale filter stuur.
Die filter — genoem ’n dialiseerder — werk soos ’n sif wat afvalstowwe en oortollige vloeistof verwyder. Die skoongemaakte bloed vloei dan weer terug in jou liggaam.
Hierdie behandeling gebeur gewoonlik in ’n kliniek of hospitaal, drie keer per week, en neem ongeveer vier uur per sessie.
- Peritoneale dialise
In hierdie vorm word jou buikvlies (’n dun membraan aan die binnekant van jou buik) gebruik as natuurlike filter. ’n Skoon dialisevloeistof word in jou buikholte geplaas deur middel van ’n sagte buisie (kateter). Hierdie vloeistof trek afvalstowwe en oortollige water uit jou bloed en word ná ’n paar uur weer uitgelaat. Peritoneale dialise kan by die huis gedoen word, dikwels oornag terwyl jy slaap.
Hoekom is dialise belangrik?
Dialise hou jou liggaam se chemiese balans stabiel:
- dit verwyder ureum en kreatinien, afvalprodukte van jou metabolisme;
- dit help om natrium, kalium en kalsium op gesonde vlakke te hou;
- dit keer dat oortollige water in jou longe of bene ophoop.
Dialise genees nie niersiektes nie, maar dit ondersteun die lewe totdat ’n nieroorplanting moontlik is of totdat die niere dalk herstel.
My eerste ervaring
Voor dialise
Voor die sessie is ek geweeg en my bloeddruk is gemeet. Ek het hierna gou geleer dat my gewig wys hoeveel vloeistof my liggaam intussen opgegaar het — iets waaroor ek voorheen nooit oor gedink het nie. Die verpleegster maak my kateter skoon en berei alles voor. Die dialise-masjien word aangeskakel.
Ek was baie senuweeagtig en het my oë op die masjien gehou en gewonder hoe dit moontlik is dat my bloed daar deurvloei en dan weer na my terugkeer. Dis vreemd hoe gou hierdie gedwonge roetine deel van my lewe geword het.
Tydens dialise
Toe die masjien begin werk, voel ek eers die koue van die vloeistof en hoor ek die sagte gezoem van pompe en filters. Dis amper soos asemhaal — ek gee iets uit, en kry iets terug.
Ek voel ’n bietjie moeg en kouerig, maar die suster kom gereeld kyk en vra of ek reg is. Ek probeer die tyd gebruik om stil te raak, om te dink en te bid. Dit voel vir my na ʼn groot deel van my dag en lewe wat verlore raak. Dis ironies dat ek hier, tussen buise en monitors, gedwing word om oor baie lewensvrae te dink.
Ná dialise
Na die behandeling klaar is, ontkoppel hulle die pype. Ek word weer geweeg — en ek is verbaas hoeveel ligter ek is. My emosies is ʼn warboel.
’n Laaste gedagte
My ervaring met die eerste dialise was stresvol en het my met onsekerheid gevul omdat alles ʼn nuwe ervaring was. Om met dialise te begin, is nie net ’n mediese ervaring nie — dis ook ’n emosionele reis. Ek word gekonfronteer met die broosheid én veerkragtigheid van my liggaam en menswees. Ek is êrens tussen tegnologie, mediese versorging en my bestaanstryd vasgevang.
