Your cart is currently empty!
Gwalakrag
Drs. T. Kleynhans en S. van der Merwe
11 September 2025

Gwala is moontlik ʼn Fanagalo-woord wat in die Suid-Afrikaanse mynbedryf ontwikkel het om die gereedskapstuk wat in Afrikaans as ʼn koevoet aangedui word, te beskryf. Dit is ʼn sterk staalyster van ongeveer ʼn meter in lengte wat aan weerskante puntig gevorm is en waarmee ʼn werker met die beginsel van hefboomkrag, groot en swaar voorwerpe soos klippe uit die harde grond kan loswikkel.
Met hierdie inskrywing wil ons jou ʼn gwala in jou hand gee.
Gwala gaan die metafoor wees vir ʼn belangrike begrip wat Kroniese Kronieke binne persoonlike selfbestuur gebruik. Dit het as beeld die gwala in gedagte wat wys op die hulp wat jy van ander kan ontvang om jouself te vernuwe. So ook dui dit op jou eie vermoë om te verander. Ons sou ook gwala tribe kon gebruik wat beteken dat ons nie alleen op ʼn eiland ons probleme hoef te hanteer nie. Daar is mense wat soos ons dinge voel en ervaar en daar is ʼn gemeenskap van ondersteuners. Bowenal is die Here elke gelowige mens se GWALA en hierop sal die hooffokus wees.
Hier is ses beginsels vir die lewe as lid van die Gwala tribe:
Kragbeginsel 1
Jy kan jou innerlike dryf en jouself verloor en alleen voel

Soms en om een of ander rede word jy vergete agtergelaat. Soos ʼn motor wat in onbruik raak. Jy het jou dryf en drome verloor. Die lewe het jou ingehaal. Slegte ervarings het jou lewensenergie getap en jy was nie in staat om jou tenk weer te hervul nie.
Die vonk wat jy nodig het om die energie te laat ontbrand, ontbreek. Jou battery het kragloos geraak. Stadigaan het die bande flat spots ontwikkel van die lank staan.
Negatiewe woorde in jou eie hart en gedagtes, maar dalk ook van ander het soos jare se stof en blare en ander gemors op jou kom lê.
Jy het dalk geheel opgegee. Die pad het vir jou geëindig. Ten minste so voel dit. Dit kan enige tyd met enige mens gebeur. Meestal gebeur dit oor ʼn tydperk en na baie terugslae en nederlae.
Kragbeginsel 2
Jy hoef nie alle hoop te verloor nie
Soms wanneer jy gelukkig is, kom iemand of iets oor jou pad en herontdek jy jouself. Soos ʼn versamelaar of restoureerder van ʼn ou motor sy oog het op die potensiaal wat begrawe is.
Soms is daar ʼn sneller wat jou herinner om te dink aan nuwe moontlikhede. Iets wat jy lees of hoor. ʼn Fliek waarna jy kyk. ʼn Facebook inskrywing.
Soms praat ʼn vriend of kollega met jou. Jy besef dat waar jy is en hoe jy voel nie is hoe jy wil wees of begeer om te wees nie.
Die tyd het aangebreek, ke nako, vir verandering en vernuwing en die aangryp van nuwe geleenthede.
Kragbeginsel 3
Jy kan hulp vra van mense wat omgee en kan help
Die waarheid is wel, dat jy meestal nie in staat is om jouself weer mobiel en funksioneel te kry nie. Iemand van buite met hulpbronne moet jou weer ʼn kans gee.
Dalk ʼn sielkundige wat kan help om weer te kyk na die redes vir die situasie.
Dalk ʼn berader wat spesialiseer in die trauma wat nie verwerk is nie.
Soms ʼn predikant of iemand wat jy ervaar met ʼn besonderlike geestelike perspektief en waarin jy vertroue het.
Die punt is, ons het meestal iemand met ʼn gwala nodig wat jou kan help om jou los te wikkel uit die groef waarin jy beland het. Iemand wat met deernis, kennis en ervaring of tegnieke kan help om jouself te help sodat jy weer met gesonde selfbestuursgewoontes na jouself op ʼn beter manier kan omsien.
Kragbeginsel 4
Jy kan weer opnuut droom oor jou nuwe lewe
Dikwels sal dié geleentheid jou in staat stel om jou nuwe self en ware potensiaal te verwesenlik sodat jy selfs meer kosbaar as vroeër sal wees en voel.
Daar is twee beelde wat kan help om die bevryding te verbeeld.

Die eerste is die feniksbeeld wat verbeeld hoe jy as’t ware uit die as verrys – spiksplinternuut. Dit mag dalk vir jou die regte beeld wees om jouself weer te herbou. Jouself nog ʼn kans te gee. Weer te probeer, maar die keer met meer ondersteuning en selfbestuursvaardighede.
Die tweede is die beeld van die ou vergete motor wat herstel en vernuwe word. Dit kan jou ook help verstaan dat daar ook vir jou – elke mens – weer nuwe hoop kan wees. Dat daar nuwe drome kan wees. Dat daar nuwe energie en lewenskrag kan wees. Dat jy weer betekenis kan ervaar. Kan voel dat mens se lewe wel die moeite werd is. Kan weet dat als nie verlore is nie. Kan ervaar dat jy elke oggend kan opstaan met ʼn rede. Met vreugde. Met vrede.
Kragbeginsel 5
Jy neem die gwala in jou eie hande
Anders as die metafoor van die ou motor wat dalk deur iemand “gered” word – is jyself – medeverantwoordelik vir die nuwe geleentheid en uitkoms van die restourasie en herstelproses in jou eie lewe. Jy moet ook die gwala in jou hand neem en begin om jouself los te wikkel. Jy kan dit nie oorlaat aan die hulp – al is dit professionele hulp – van ander nie. Jy is deur jou eie persoonlike selfbestuur verantwoordelik vir jou eie nuwe self.
Daar is waarskynlik ‘n magte menigte groewe waaruit jy jouself moet bevry; die manier waarop jy oor jouself dink. Die manier waarop jy met jouself innerlik praat. Die gewoontes en patrone wat jy oor jare gevestig het en jou gebring het waar jy nou is. Jou emosionele patrone waarin jy jouself vasdraai. Selfs die geestelike pad wat jy loop. Moontlik jou reisgenote waarmee jy op weg is. Dalk jou plan van aksie.
Steek vandag jou hande uit na die gwala en wikkel-wikkel jouself los!
Kragbeginsel 6
Jy is nooit alleen nie, want God is jou Gwala
Is dit alles moontlik?
Jy wonder of dit nie maar net wensdenkery is nie? Drome sonder basis. Idees wat slegs lugspieëlings is. Dan gebeur dit dat jy maklik terugval in die groef. Dalk is dit nie so sleg in die groef nie. Die bekende is dalk beter as die onsekere uitkoms – nie waar nie?
Jy het soveel vrae in jou gemoed; sal jy ʼn gwala vind wat jou die vermoë gee om jouself los te kan wikkel? Sal jy krag kan vind om dit moontlik te maak? Is daar hulp en ondersteuning? Op wie sal jy kan steun?
Christengelowiges vertrou dat die Here hulle sien, hoor en help in sulke uiters moeilike tye en omstandighede. Die wete dat jy nie alleen gelaat word nie. Nie alleen die krag hoef te hê om die gwala te gebruik nie. Filippense 4:13 (AFR 38) is een van die tekste waarop jy kan bou.
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my die krag gee.”
Ja, jy sal dit alles kan doen.
Ja, jy sal weer hoop vind in jou hooplose gevoel oor jou lewe en jou lewenssituasie.
Ja, jy sal weer doelgerig kan leef en kan opstaan met ʼn voorgevoel van dankbaarheid vir die nuwe dag en nuwe geleenthede wat aan jou gegee word.
Ja, jy sal weer sterk en met selfvertroue kan optree, want dit is ʼn nuwe lewe wat aan jou toevertrou word.
Ja, die Here Jesus is jou bron van krag en daarom word jy daagliks innerlik vernuwe (2 Korintiërs 4:16).
Hy sal jou in alle omstandighede, oral en altyd energeer sodat jyself die onmoontlike kan moontlik maak.
Jy sal selfs in jou lyf en ledemate ʼn nuwe krag vind.
Jy sal soos ʼn arend wees wat vry sweef op vlerke wat die Heilige Gees aan jou gee.
Jy sal soos Paulus kan verklaar; daar is niks wat onmoontlik is nie, want God alleen maak dit moontlik.
In Hom is jy ʼn oorwinnaar.
In Hom wen jy omdat jy nie kan verloor nie.
Nou hardloop jy die lewenswedloop soos een wat doelgerig fokus op die wenstreep.
Jy slaan nie langer lughoue nie, maar soos ʼn geoefende bokser verslaan jy die opponent.
Jy verslaan jou negatiewe denke.
Jy verslaan jou alewige melankoliese aard.
Jy verslaan jou diepe selfverloëning.
Jy slaan met mening na die innerlike vyand wat hom verlekker in jou stryd.
Jy slaan na die uiterlike vyand wat jou ondergang begeer.
En dan slaan jy jou oë op na die berge en vind ʼn antwoord op die vraag; waar sal my hulp vandaan kom?
Van die Here!
Van Hom is jou krag.
Jou redding.
Die Here is jou Gwala.
Jy sal nie vir altyd in die groef vergete bly nie.
Die Here is jou Gwala, Hy wikkel jou los en gee jou nuwe krag.
ʼn Alternatiewe perspektief op Psalm 23
Die Here is my Gwala
Die Here is my Gwala.
Hy wikkel my los wanneer ek in groewe vasgeval het.
Met sy hulp is daar weer hoop in my hart.
Sy Gees is die koevoet waarmee ek berge verskuif.
In Sy krag verslaan ek vertwyfeling en wanhoop.
Ek vind weer vaste grond onder my voete
en loop met sekerheid die onsekere toekomspad
In die moeilikste tye is ek die dapper muis.
Vir niks is ek bang nie
Die Here is tog immers Immanuel.
Hy is God by my.
My Here laat my so waardig voel.
Soos iemand wat gerespekteer word.
Hy gee erkenning aan die mooi en goeie van my menswees.
Ek voel soos sy witbroodjie.
Sy oogappel.
Die Here stel twee wagters aan om my te lei en te beskerm.
Sy goedheid en guns is herdershonde.
Ek is die skaap so veilig in die kraal.
My lewe is onlosmaaklik deel van die Here se sorg.
