Die Winter is hier om nes te skrop, ons gaan nie onkant gevang word nie. Ons pak Wintersklere uit – warm truie en uitgevoerde baadjies. Beddens word oorgetrek met Winterlakens, snoesige komberse en selfs elektriese warm kombers. Verwarmers word afgestof en gasbottels gevul vir gasbranders vir die koue aande wat voorlê. Sop word gekook en gevries. Voorraad vir koue Winteretes. Brandhout vir knetterende kaggelvure word opgestapel. Op hierdie manier hoop ons dat ons die Winter sal oorleef. Ten minste vir die van ons wat graag binne die huis hiberneer.

Ander maak hulself weer opgewonde gereed vir die jagseisoen. Patroondoppies word akkuraat gelaai. Gewere word gediens. Besprekings vir jag op die jagplase is ʼn jaar vooruit gedoen. Wildsbiltong gaan later met skerp knipmesse in dun boekies gesny word en wildspotjies gaan op kampvure prut en stoom.

Winter is hier.

Vandag dink ek nie net aan Winter as ʼn seisoen van die jaar nie. Mense, ek en jy, beleef ook Winterseisoene in ons emosionele en geestelike lewe. Vir Swan, in haar digbundel Lamentoso (2025:18) is Winter ʼn metafoor vir innerlike pyn en swaarkry.

“Gevriesde emosies maak siek” sê sy. 

Jou hart het gevries. 

Twyfel, wantroue en ongeloof het in jou siel ingekruip.

Jy voel kaal, dood en leweloos soos die bome sonder hulle blare. 

So word Winter ʼn beskrywing van die innerlike landskap van ʼn gefolterde gemoed. ʼn Mens wat onder beleg is. ʼn Mens wat steier onder die aanslag van “Winter”. Nou word die lewe ʼn worsteling teen die elemente van negatiewe denke en self donker depressie. Uitputting dompel ʼn mens maklik in emosionele afstomping en selfs gevoelloosheid. Lewenskwaliteit word ingeboet. Die goed en mooi van die lewe verbleek onder “koue, ryp en ys”. Dit word ʼn bestaanskrisis.

Tydens die Winterseisoene van die lewe worstel ʼn mens dikwels met diep persoonlike vrae:

Kan ek dié uitdagende tyd oorleef? 

Sal die seisoen verbygaan? 

Wat doen ek met hierdie doodse afstomping?

Is daar êrens bietjie son en warmte?

Daar is ook geloofsvrae:

Ken die Here my nog? 

Is ek nog seker van Sy belofte dat ek veilig is in Sy hand?

Kan ek op God reken om Immanuel te wees wanneer ek voel soos ek voel?

Onsekerheid begin knaag. Soos ʼn rot. Knaag aan die binnedeure van my geloof. “Wintertyd” is ʼn wesentlike krisis!

Dit is dan wanneer ek die geliefde Psalm 23 en Johannes 10:22-30 herroep as brandhout vir die vuur in hierdie “Winterseisoen” van die lewe. ‘n Vuur waarby ʼn mens weer die vertroosting van die Woord sal beleef. Die Lig en Warmte sal ons aanraak. 

Dit is ‘n Woord vir ʼn koue tyd, soos Johannes 10:22 aanvoer “Dit was winter …”. Hierdie enkele sin is meer as net ’n weerberig van daardie tyd. Dit sê iets van die atmosfeer. Die Jode wat Jesus omring het se harte was kliphard en yskoud. Hulle was vol onsekerheid gewees. Tweekeer herhaal Jesus die woorde wat hulle moes laat nadink: “… maar julle glo nie …” Ten spyte daarvan dat hulle gesien en gehoor het. 

Dan vertel Johannes verder, in die hartjie van die Winter van die lewe, is daar ‘n Herder.

Jesus Christus, die Goeie Herder.

Volkome een met die Goeie Vader. 

Ek is die Goeie Herder, verklaar Jesus.
My skape luister na My stem.
Ek ken My skape.
My skape volg My.

Johannes 10:27

In hierdie woorde lê God se genade ontbloot. Die Goeie Herder se stem bring sekerheid, in ‘n wêreld vol onsekerheid. Sy stem “lei my op die regte paaie.” Dit “gee my nuwe lewenskrag.” Die Goeie Herder lei my “na water waar daar rusplek is.” Sy stok en staf stel my gerus. Sy goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe. 

Die Goeie Herder sorg en versorg Sy skape elke dag. Met liefde en deernis. 

Ja, dit is natuurlik so, dat die Goeie Herder se skape nie altyd perfekte gehoor het nie. Daarvan is al die afdraaipadjies ‘n stille getuienis. Dit is ook nie wat Jesus gesê het nie. Hy het wel gesê “hulle luister.” Het jy al daaraan gedink dat dit ’n absolute genadegeskenk is om God se stem te hoor en te herken? Om te luister, is ‘n ingesteldheid. Dit is ‘n ingesteldheid van aandag gee aan God se Woord. Dit is ‘n ingesteldheid van ‘n hart wat verlang na die Goeie Herder se teenwoordigheid.

En dan die nodige gerusstelling … “Ek ken jou!”, sê Jesus op hierdie Wintersdag. Ek ken jou stryd, jou vrese, jou stille gebede in die nag. Ek ken jou omstandighede. Ek ken jou nie met oordeel nie — maar met liefde. Soos Psalm 139 sê: “U deurgrond my en U ken my.”

Kan jy die vuur van sekerheid hoor knetter? Voel jy hoe die warmte van die Woord brandhout vir die Wintermaande is?

Die Goeie Herder se sorg en versorging is nog nie klaar nie. Dit is nie net bedoel vir hierdie lewe nie. Jesus, die Goeie Herder verklaar in Johannes 10:28 

“Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”

Hierdie waarheid staan vir die skape wat die Goeie Herder volg. Jy is in die hand van Christus. Sy hand is ook die Vader se hand. Die twee hande van een God.

Sterk.

Getrou vir Winterstyd.

Jou geloofsekerheid lê nie in jou greep op Hom nie, maar in sy greep op jou. Hy sal jou nie laat los nie. Die Goeie Herder gaan nooit terug op Sy beloftes nie. Sy stem bly klink — deur die Woord, deur die Gees, deur Sy liggaam, die kerk.

Hoor jy Hom vanoggend? 

“Jy is myne. Ek het jou geken van voor die grondlegging van die wêreld. Ek roep jou. En jy sal vir ewig in my hand bly.”

Lamentoso, 2025, Swan en Van der Merwe. KleynVDM Uitgewers. Kroonstad.