Dag 9300 van my reis met Tipe 1 Diabetes Mellitus  

Charl van der Merwe 

Op 27 Maart 2000, vandag presies 9300 dae gelede, het my reis met Tipe 1 Diabetes Mellitus, of suikersiekte soos die ou mense dikwels gesê het, begin. Ek was toe 16 jaar oud en ʼn graad 11 leerling aan die Hoërskool Bellville. Dit was die eerste Maandag van die Maart/Aprilskoolvakansie. Ek was doodmoeg, het net heeltyd gelê en het geen energie vir enigiets gehad nie. Ek was die heeltyd baie dors en moes dikwels toilet toe gaan.  

Ons het die Vrydag na skool van Bellville na ons strandhuis in Kleinmond toe gery – so uur en ‘n half se ry. Deur die loop van die naweek het my ouers aanvanklik gedink dat ek maar net baie moeg is van die eerste kwartaal se skoollewe en buitemuurse aktiwiteite, maar toe ek teen die Maandagoggend na daardie naweek nog steeds so lêerig is, toe besluit my ouers tot hier toe en nie verder nie – nou moet ons by ‘n dokter uitkom. Hulle het redelik vertroue in ons huisdokter gehad, so my ma bel toe en die spreekkamer sê ja ons kan maar kom, daar is ‘n opening. Ons pak die sakke, laai die kar en ry terug Bellville toe. Ek lê heelpad op die agterste bank langs my sussie en kan net nie myself regop hou nie.  

Toe ons by die spreekkamer aankom, was ek so pap en lam in my bene dat ek nie regtig op my eie regop kon bly nie en is maar so al leunende op my pa en ma daar in. Die dokter sê lê solank op die bed terwyl sy by my pa en ma hoor wat my simptome is. Na so paar minute stap sy na my toe en vra vir my om my asem uit te blaas – sy wil my asem ruik. Sy het so een ruik gegee, vir my ouers gekyk en gesê: Klim in die kar en kom so gou as wat julle kan by Durbanville Mediclinic (so 15 min se ry van die spreekkamer af). Sy sal solank die internis bel. Sy het ketone in my asem geruik. 

Ketone is chemikalieë wat deur jou liggaam vervaardig word wanneer jou liggaam begin om vet in plaas van glukose vir energie te gebruik. Wanneer jou liggaam nie genoeg energie kry van glukose nie, begin jou liggaam vette afbreek vir bykomende energie. Hierdie proses stel ketone vry wat deur jou bloedstroom begin beweeg. Om bietjie ketone in jou bloedstroom te hê, is eintlik normaal en veilig, maar te veel ketone kan jou bloed suur en toksies maak wat dan gevaarlik vir jou liggaam begin raak. Hierdie opbou van sure in jou bloedstroom word ketoasidose genoem. Die gevolge van ketoasidose is vir ‘n persoon wat aan diabetes ly lewensgevaarlik en staan bekend as diabetiese ketoasidose (DKA).  

DKA word gesien as ʼn mediese noodgeval wat onmiddellike mediese behandeling vereis, wat verduidelik waarom die dokter vir my ouers gesê klim in julle motor en kom by die hospitaal. Ek was volgens die dokters baie naby aan ‘n ketoasidotiese koma. Saam met die risiko om in ‘n koma te gaan, kan DKA ook ander negatiewe komplikasies soos breinswelling, vog in die longe, hartstilstand, nierskade en selfs die dood tot gevolg hê. Die uiteindelike diagnose daardie dag was toe natuurlik Tipe 1 diabetes, ʼn outo-immuunsiekte wat tot gevolg het dat my liggaam nie meer in staat is daartoe om self insulien te vervaardig nie. Ek moes dadelik leer om myself met insulien te begin inspuit en self my bloedsuiker te toets en leer wat om te doen as my bloedsuikervlakke te hoog of te laag is. My lewe het daardie dag onherroeplik verander.  

Op die 27ste Maart vanjaar was dit die 25-jarige herdenking van my reis met diabetes. Is dit iets om te herdenk? Dit is tog nie ‘n verjaardag of ‘n 25ste huweliksherdenking nie. Hoekom sou ek iets wou herdenk wat nie lekker is nie en my lewe verander het in ‘n konstante balanseertoertjie – die lewe van ‘n koordloper tussen die twee wolkekrabbers van lae bloedsuiker en hoë bloedsuiker. Miskien is die antwoord so eenvoudig soos die feit dat ek nog lewe na 25 jaar van my reis met hierdie siekte.  

Hoekom is dit ‘n balanseertoertjie? As gevolg van die feit dat daar soveel veranderlikes is wat ‘n invloed kan hê op my bloedsuiker. Hierdie veranderlikes is soos balle wat noukeurig in die lug gehou moet word – medikasie, dieet, oefening, stres, spanning en algemene goeie gesondheid. Diabetes is nie die soort siekte waar dit op ‘n fisiese vlak noodwendig lyk of ek siek is nie.  

As jy nou na ʼn foto van my gaan kyk, gaan ek nie siek lyk nie, maar dit is presies die rede waarom daar dikwels na diabetes verwys word as die “silent killer”. In 2024 is 3.4 miljoen mense wêreldwyd oorlede as gevolg van diabetes – 1 persoon elke 9 sekondes.i Dikwels weet mense nie dat hulle diabetes het nie en gaan hulle met hulle lewens aan terwyl die negatiewe komplikasies van diabetes begin hoogty vier.  

Ek moes leer dat dit wat ek nou doen om myself op te pas en my diabetes so goed as moontlik te bestuur, nie net iets is wat ek vir nou doen nie – dit is ‘n langtermyn reis. Ek doen dit sodat ek oor 30 jaar van nou af nog my sig het; sodat my cholesterol goed genoeg onder beheer bly sodat my are nie later in my lewe so aangepak raak en ‘n hartaanval of beroerte veroorsaak nie; hoop dat my niere nie te veel skade opdoen nie en hoop dat die senuwees in veral my voete en bene nie tot so mate aangetas word dat ek later gevoel in my bene en voete begin verloor en dalk ‘n toon, voet of gedeelte van my been moet laat amputeer nie.  

Is ek na 25 jaar nog lus vir hierdie diabetes-ding? Nee. Is ek gatvol? Ja. Is ek in opstand daaroor? Die laaste paar jaar veral ja. Gaan dit enigiets verander om so te voel? Nee, want ek het nie ‘n keuse nie. Diabetes gaan saam met my bly tot ek eendag my lewensreis hier op aarde voltooi.  

Die nagte waar ek wakker word 02:00 in die oggend, papnat gesweet omdat my bloedsuiker te laag geraak het (hipoglisemie), gaan nie weggaan nie. Die feit dat ek dan al dikwels daardie tyd van die nag in die gang af kombuis toe moes strompel om dan te probeer om ʼn grondboontjiebotter-en-stroop-broodjie aanmekaar te slaan om my bloedsuikervlakke te laat styg, en dan so sleg voel dat ek net daar op die kombuisvloer teen die kas gaan sit om my broodjie te eet en daar te bly sit tot ek weer sterk genoeg voel om op te staan, gaan nie weggaan nie.  

Die tye wat ek in die klaskamer voor my leerders staan en klasgee en my bloedsuikervlakke ewe skielik net so vinnig val dat ek begin sleeptong praat en nie eintlik onthou wat ek 2 minute gelede vir die leerders gesê het nie, gaan nie weggaan nie. Die hoofpyne wat ek klokslag na ‘n episode van hipoglisemie kry, gaan nie weggaan nie. Die dae waar my bloedsuiker so op-en-afspring, al het ek alles presies volgens die boek reggedoen, gaan nie weggaan nie. Die 4 keer per dag wat ek myself moet inspuit met insulien, gaan nie weggaan nie. Die seer van ‘n stomp naald in my vel wanneer ek per ongeluk vergeet het om ‘n naald om te ruil, gaan nie weggaan nie. Die dae waar ek met ‘n hoë bloedsuiker opstaan en dan die heeldag sukkel om dit weer af te kry tot op ‘n normale vlak, gaan nie weggaan nie. Die swaar en lam gevoel in my ledemate wanneer my bloedsuiker hoog is, gaan nie weggaan nie. Die 6-maandelikse besoeke aan die internis en oftalmoloog gaan nie weggaan nie.  

Ek het sover ook nog nie weggegaan nie en hopelik maak diabetes nie dat ek hoef weg te gaan nie.

Dag 10000 – hier kom ek!