Your cart is currently empty!
ʼn Stewige vastrapplek vir ons voet
Drs. S. van der Merwe en T. Kleynhans
10 Junie 2025

Die alledaagse lewe laat ʼn mens dikwels op verskeie maniere onseker, onveilig en weerloos voel. Voeg daarby die daaglikse worstelstryd met kroniese siekte en pyn – dan voel dit asof jy op ʼn seepgladde oppervlak jou balans moet behou. Die afgronde van lyding dreig om ons te verswelg. Soveel mense het reeds hulle gesondheid op verskeie maniere verbeur. Mense het op allerlei maniere hulle lewenskwaliteit en lewe van sin en betekenis verloor en sodoende nie die vastrapplek vir hulle voet kon vind nie.
So eggo die bekende woorde van Liedboek 518 in ons harte en gedagtes:
Voel jy soms of die Here te vér is?
Twyfel jy soms aan God se bestaan?
Ja, presies vir hierdie en ander onveilige gevoelens wat mense daagliks beleef is die Psalms ʼn vastrapplek. In die Psalms identifiseer ons met situasies en gebeure wat deel is van hierdie wêreld se bestaan. Die Psalms gee wonderlike uitdrukking aan die wye spektrum van ervarings en emosies wat ons mense daagliks beleef. Die beelde en metafore, die woorde en klanke van die Psalmboek bring troos in tye van verlies. Dit gee sekerheid en redes om met geloof en vertroue die lewensreis selfs in risikotye te navigeer. In hierdie bundel van gedigte en liedere ontdek ons God se teenwoordigheid, selfs ten tye van bedreigende lewensomstandighede en so begin ʼn sprankie hoop glinster. Die lig begin deur breek. So sien ons in die lig van God se Lig die vastrapplekkies wat ons desperaat nodig het vir die volgende treë op ons lewenspad.
Psalm 104 se woorde maal in my gedagtes. Die titel van hierdie gedig in die Nuwe Lewende Vertaling val sommer met die deur in die huis: Hoe groot is U! Hierdie Psalm herinner ons daaraan dat God – die Skepper van die kosmos – veel groter is as al ons gevoelens van onsekerheid en onveiligheid. ’n Wonderlike skeppingspsalm met skilderagtige woorde.
Ons ontdek God se teenwoordigheid op verskeie maniere in hierdie Psalm.
- God is met majesteit en eer (vers 1) beklee, bedek met ʼn mantel van lig. Sonder moeite word die hemel en aarde deur Hom geskape. So ryg die digter die lof van God aan ʼn snoer en hang dit op sodat almal dit kan sien en ervaar.
- God is in beheer en heers (vers 3-4). Die wolke, wind en selfs die weerligstrale staan in God se diens.
- Die woorde van hierdie gedig bring my tot die besef dat God tot soveel meer in staat is as wat ons dink (vers 5-23). In ons mensheid plaas ons so maklik vir God in ʼn boksie waarmee ons gemaklik is. Tog hoor ons weer opnuut hoe die hele skepping bewe voor die magtige God.
- Vers 24-29a sê dat God alles met wysheid en sorg geskep het.
- Ons ontmoet God natuurlik ook as die gewer en nemer (vers 29b-30) van lewe.
Luister gerus na ʼn lied met die titel In Verwondering
Psalm 104 nooi ons uit om God as God te erken. ʼn Uitnodiging om tot die besef te kom dat geen skepsel, ongeag hoe klein, óóít deur God vergeet word nie. God sorg waarlik vir al Sy skepsels. God laat nie vir ons en die skepping aan ons eie lot oor nie.
God sorg dus ook vir my en jou. God weet inderdaad wat ons diepste behoeftes is. Daarom hoef ons nie in vrees en bewing te lewe nie. Daarom het ons voet vandag en ook elke ander dag ʼn vastrapplek. Op God kan ons mos daagliks vertrou!
In Lamentoso het die grafiese ontwerper dié beeld van ʼn voëltjie wat ʼn storm trotseer gebruik om die fel aanslae van die lewe te illustreer (Swan & Kleynhans, 2025:13). ʼn Voëltjie sit druipnat, koppie onderstebo in ʼn hewige storm.
Voel dit soms vir jou of jy in ʼn soortgelyke aanslag teen die storms van die lewe sukkel om staande te bly?
Ons nooi jou uit om in hierdie week tyd te maak om net te wees. Om te wees met ʼn bewustheid van God se teenwoordigheid in elke aspek van jou lewe. Kyk gedurende die week ʼn bietjie na die plante en voëls om jou. Miskien sien en ervaar jy daardeur iets van God. Herinner jouself dat as God vir ʼn klein, onbelangrike voëltjie sorg, God vir jou ook sal sorg. Ons is nooit alleen nie en dit gee hoop te midde van wanhoop, onsekerheid en eensaamheid. Dit is ons vastrapplek. ʼn Stewige vastrapplek vir ons voet.
So kan ons dan die lied voltooi en met hart en siel saam sing …
Jy moet glo dat die Here met jou saamloop;
– Liedboek 518 –
dat sy Gees oral met jou sal gaan.
