Mandaat vir kroniese siekte en siek wees  

Dr. T. Kleynhans 
Mensregtedag 21 Maart 2025 

Hierdie bloginskrywing sluit aan by Kroniese Kronieke Inisiatief – wat dit onomwonde stel dat aan elkeen wat op reis is met kroniese siekte, hoë prioriteit verleen behoort te word. Die leuse: Ons sien JOU! is so in die kol. In aansluiting hierby word ʼn kort mandaat tydens Menseregtedag (2025) aangebied.  

Hiermee word voorgestel dat nuwe perspektiewe op die regte en voorregte moet geld vir mense wat siek is, deurlopende pyn en selfbestuurskonflik ervaar en ook vir die wat met hulle saamleef, -werk en of ondersteun. 

Wanneer die volle breedte en diepte van die felheid van die siek-wees-stryd in fokus geplaas word, is die regte en voorregte daaraan verbonde ononderhandelbaar. As mens het elkeen tydens gekompromitteerde gesondheid die ervaring van verlies van lewenskwaliteit en betekenis. Dit beteken dat daar bedreigings is wat die hoof gebied moet word, maar ook geleenthede wat wag om ontgin te word. 

Die reg en verantwoordelikheid van selfbestuur 

Persone wat akuut of kronies, siekte en siek wees ervaar, het die reg en verantwoordelikheid om deur selfbestuur hom- of haarself in alle opsigte te fokus op die mees suksesvolle hantering van die ervaring. Selfbestuur is ʼn bewuste en berekende aksie met toespitsing op die hantering van die siekte.  

Die reg en verantwoordelikheid van selfsorg 

Siek persone het die reg en verantwoordelikheid om deur selfsorg op ʼn selfstandige wyse na hulself om te sien, binne die beperkings van die spesifieke siekte en situasie. Hulle het self die geleentheid nodig om al die fasette van belang vir die beste lewenskwaliteit en betekenis na te streef en te bereik. Dit vereis ʼn besondere bewus wees van die belang van selfsorg en die vermoë om dit self toe te pas. 

Die reg en verantwoordelikheid op lewenskwaliteit 

Siekte en siek wees gee die mandaat tot die reg en verantwoordelikheid om op die aard van die kwaliteit van lewe te fokus. Die aard van siekte en pyn is om lewenskwaliteit te erodeer en dit moet deur persoonlike selfbestuur en selfsorg hanteer, bestuur en indien moontlik omgekeer word. 

Die reg en verantwoordelikheid van betekenis 

Lewensbetekenis is die belangrikheid, gewig of waarde wat aan aspekte van die lewe gegee of geheg word. Tydens siekte, die ervaring van intense pyn en die dikwels meegaande nuwe normaal wat op die siek persoon afgedwing word, is lewensbetekenis onder druk. Siek persone het die reg om die betekenisgewing hiervan in hul lewe te bevraagteken en uit te daag. Pyn en lyding vereis reguit vrae en eerlike antwoorde. Die reg en verantwoordelikheid mag nie opgegee word omdat dit uitdagend en antwoorde dikwels ontwykend is nie.  

Die reg tydens ervaring van pyn 

As kroniese siek persoon het jy ten opsigte van ongenaakbare pyn die volgende mandaat met regte en verantwoordelikhede: 

Die reg op die volledige ervaring en hantering van pyn 

Jy het die reg om openlik en eerlik te erken en dit te verwoord dat jy swaarkry onder die aanslag van pyn en seer. Dit is jou verantwoordelikheid om die inligting te deel met persone wat waarlik jou reisverhaal ondersteun.  

Jy het die reg om te verklaar dat jy soms deur jou pyn oorweldig word. Dat die pyn te veel is om te verduur en dat die kroniese aard daarvan jou lewenskwaliteit bedreig en selfbestuur baie moeilik maak.  

Dit is jou verantwoordelikheid om versorgers en professionele hulpverleners toe te laat om jou te ondersteun. 

Jy het die reg om by tye selfs wanhopig te voel en te ervaar dat jy moed verloor omdat jy dink dat jou selfsorgstryd onvoldoende is en jy die stryd teen pyn verloor. Dit is jou verantwoordelikheid om jou bestuursplan te herwaardeer en ʼn ondersteuningsraamwerk op te bou.  

Jy het selfs die reg om tydens ʼn laagtepunt uit te roep: “Ek kan nie meer nie!” Dit is jou verantwoordelikheid om met innerlike veerkragtigheid terug te veg omdat jy nooit sonder hoop is nie. 

Die reg om te verwag dat iemand genoeg vir jou sal omgee  

Jy het die reg om te verwag dat iemand die vuurtoring se lig sal aanskakel sodat jy in die see van pyn ʼn klein flikkering van hoop kan ervaar. Dit is jou verantwoordelikheid om nie hulp wat jou aangebied word, van die hand te wys nie. 

Jy het die reg om te verwag dat iemand vir jou ʼn reddingsboei sal gee sodat jy in jou aanvegting van pyn kop bo water kan hou. Dit is jou verantwoordelikheid om met dit wat voel soos jou laaste krag, die geleenthede wat die kroniese siek situasie bied, met beide hande aan te gryp. 

Jy het die reg om te verwag dat iemand genoeg sal omgee en jou sal bemoedig deur uit te reik en te sê: “Hou moed! Ek sien jou stryd raak. God dra jou deur!” Dit is jou verantwoordelikheid om te glo dat daar ook vir jou in jou kroniese stryd betekenis te vind is. 

Die mandaat van ondersteuning, versorging en hulpverlening 

Siek en siek wees veronderstel nie slegs die werklikheid van siekte by persone nie, maar ook die muntstuk se ander kant, naamlik omgee, ondersteuning, die bereidwilligheid om te help met die selfsorgtaak en professionele hulpverlening as reisgenote van die siek persoon.  

Die reg om as kampvegter op te tree vir persone wat siek is  

Vir almal wat kroniese siek persone versorg en met professionele ondersteuning dien, is daar die volgende regte en verantwoordelikhede: 

Jy het die reg en verantwoordelikheid om onvoorwaardelik en met oorgawe jouself in die stryd te werp as kampvegter en medereisiger van die siek persoon waarmee jy in direkte verband staan. 

Jy het die reg om self en vrywillig toe te tree in die aanvegtinge en geleenthede wat siekte in die lewe van mense te weeg bring en sodoende die vraag wat Psalm 94:16 stel positief te beantwoord: “Wie sal…in die bres tree…?” 

Jy het die reg en die verantwoordelikheid om genoeg om te gee en aan te bied om waar moontlik die siek persoon se las te verlig deur onder sy of haar kruis in te klim.